Galasiërs 3:13: “Christus het ons losgekoop van die vloek
wat die wet meebring, deur in ons plek ‘n vervloekte te word.”
Om aan God se wil te voldoen, en in sy toets te slaag om ‘n kind
van God te word, kan jy een van twee dinge doen. Of jy kan self
probeer om die letter van die wet tot in die fynste detail te
gehoorsaam, of jy kan in Jesus Christus glo wat dit in jou plek
kom doen het, en in jou plek kom betaal het vir die straf op
die sonde.

Om self te probeer gaan nie werk nie. Niemand kon dit ooit
regkry nie. Daar rus inderdaad ‘n vloek op elkeen wat dit self
probeer, sê Paulus in Galasiërs 3:10. Want vir elke wet wat
hulle probeer gehoorsaam, oortree hulle talle ander...
Die Woord van God sê immers dat ons volmaak moet wees
soos Hy volmaak is. Dit is 100%, of niks. Net dan is ons vir
God aanvaarbaar. En dit word ons in Christus!

Wanneer ons in Christus glo en aan Hom vashou is daar
reddende nuus! Christus het Hom nie net in ons plek aan die
wet kom hou nie, maar ook vir ons kom betaal deur die vloek
van ons wetsoortreding op Hom te neem. Met ander woorde:
Toe Jesus aan die kruis gehang het, het Hy daar gehang as die
grootste wetsoortreder van alle tye. Hy het ons almal se
ongehoorsaamheid op sy skouers kom dra! Hy het die totale
straf, die totale straf, vir ons ongehoorsaamheid gedra.
Tot in die dood, die dood aan die kruis!

Glo in die Here Jesus Christus! Net Hy kan die saak tussen jou
en God regmaak, dit volkome herstel na God se skeppings doel
met jou! Dit is nie net oor en oor die moeite werd nie,
dit is lewe of dood! Nou hoef jy nie meer te probeer om God te
beïndruk met jou pogings nie. Dit is futiel. Nee. Jy kan nou
eenvoudig elke dag saam met Jesus en in Jesus vir God leef!
Jy behoort aan Hom! Jy is sy eiendom!
Jy is vir ewig veilig in Hom!

Ernest