Galasiërs 4:6: “En omdat ons sy kinders is, het God die Gees
van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: “Abba!”
Ons is só kosbaar vir God! Hy het ons bitter duur gekoop deur
sy Seun aan die kruis. Dit het Jesus sy bloed en lewe gekos om
ons sy kinders te maak. God het hemel en aarde beweeg om
ons sy kinders te maak. Daarom kom woon Hy ook in ons.
Ons is so kosbaar vir God en Hy het ons so lief dat Hy deur
die Gees in ons kom woon. God stuur die Gees van Christus
in ons harte. Die Gees van Christus kom maak woning in ons.
Ons is die Gees se aardse adres! Hy bly in ons almal wat Jesus
Christus as Here bely.

Die nuus is selfs nog beter... Die Gees bly nie net in ons nie.
Hy doen baie meer. Die Heilige Gees werk in ons.
Die belangrikste werk is dat die Gees in ons elke dag uitroep:
Abba, Vader!
Hierdie Aramese woord druk intimiteit en nabyheid uit.
Maar ook respek. Die Gees bind ons daagliks baie intiem aan
God die Vader. Die Heilige Gees lei ons ook om groot respek
vir God te hê en Hom te eer. Die Gees sorg ook dat ons nie
uit die Vader se hand val nie. Die Gees wek by ons liefde vir
God en hou hierdie liefde warm. Daarom moet ons luister
wanneer die Gees ons lei in die waarheid.
Die Gees se teenwoordigheid in ons en sy leiding deur
sy teenwoordigheid trek ons daagliks nader aan God.
Luister na die Gees... en lééf!

Ernest