Die Boodskap vertaal 1 Johannes 1:1-2 so: “Alles het by Hom begin.
Voor alles was Hy al daar. Wat Jesus kom vertel het, het ons met ons
eie ore by Hom gehoor. Ons het Hom met ons eie oë gesien. Ons het
mooi dopgehou wat Hy gedoen het. Ons kon aan Hom vat en het ook
inderdaad met ons hande aan Hom geraak. Wanneer ons dus oor
Jesus praat, is ons seker waarvan ons praat.”
Hiermee bevestig Johannes dat die verhaal van Jesus op aarde nie
hoorsê is nie, maar werklikheid! Johannes het saam met Jesus geleef
as een van sy dissipels. Dit bring soveel gemoedsrus dat Jesus se doen
en late op aarde nie maar uitgedinkte stories is nie. Maar meer nog:
Dit kom sê vir elkeen van ons dat ons moet luister en lééf wat in die
Woord van God staan.

Baie kere lees ons die Woord van die Here en dan is daar gedeeltes
wat voel of die Here jou hier laat huiwer, dat jy ongemaklik oor die
deel voel. Dan moet jy weet God is spesifiek besig om deur daardie
deel met jou te werk. God wil vir jóú iets daardeur sê. Hy wil nie
maar net jou algemene kennis oor die Bybel verbeter nie, maar jou
lewe daardeur verander! Met bogenoemde woorde beklemtoon
Johannes die werklikheid van Jesus op aarde, saam met hulle.
En saam met ons! Net so seker as wat Johannes was oor Wie
Jesus is, so moet ons dit ook glo. Hy skryf as ooggetuie!

Miljoene mense kan vandag steeds nie glo dat daar die ware Jesus
op aarde was nie. Hulle wonder of dit nie maar ‘n wolhaar storie is
dat iemand aan die kruis sterf vir hulle sondige dade nie.
Mense dink hulle is verby dit wat in die Bybel staan. Hulle kennis
en geloof rondom die harde werklikheid waarin ons leef, druk
geloof in Christus eenvoudig uit die prentjie uit.

Besin weer waarin en in Wie jy glo. Laat daardie geloof vir jou so ‘n
werklikheid wees dat jy ook elke dag saam met Jesus loop, soos sy
dissipels wat dit met hulle eie oë gesien en geglo het.
Pas jou lewe in by wat jy glo van Jesus? Ons moet leef soos mense
wat weet dat alles by Hom begin het. Voor alles was Hy al daar.
Ons moet ook met ons eie ore die Here in sy Woord hoor! Ons moet
Hom in die lewe rondom ons en in ons eie lewe sien! Ons moet mooi
rondom ons dophou wat die Here doen. Ons moet toelaat dat die
Here ons aanraak in ons harte, soos met die dissipels.
Wanneer ons oor Jesus praat in hierdie wêreld, moet ons dit met
dieselfde sekerheid doen as Johannes. Lees weer bogenoemde
teksgedeelte. Jesus lééf!

Ernest