“Maar Wie is hierdie Jesus van Wie ons praat?
Dit gaan oor die Een wat ons vertel het waar om die ewige lewe te kry.
Hy self het die ewige lewe. Daarom kan ons Hom “Lewe” noem. Die “Lewe”
het na ons toe gekom. Ons het Hom goed dopgehou. Wat ons gesien het,
het ons oortuig dat Jesus nie alleen die ewige lewe het nie, maar dit ook
vir ons kan en wil gee. Omdat niemand so naby die Hemelse Vader staan
as juis Hy nie, kan Hy dit doen” - 1 Johannes 1:2-4.

Ons moet net weer besef: Die tydjie wat ‘n mens op aarde leef is regtig
baie kort! Dit maak nie ‘n merkie op die feit van die ewigheid nie. Die kort
tyd waarin jy op die aarde sal wees is ‘n tyd waarin jy ‘n keuse moet maak
vir waarheen jy ná jou aardse lewe op pad is. Meer nog, hierdie keuse kan
‘n radikale verskil maak op die sin van jou bestaan hier op aarde.

Waarvoor en vir wie is jy hier? God druk nie sy wil op ons as mense af nie.
Liefde is ‘n keuse. Dit is nie afdwingbaar nie. Elke dag wat ons op aarde
ontvang is nog ‘n geleentheid om die keus te maak vir léwe, of ewige dood.
God stuur Jesus na ons toe om dit vir ons moontlik te maak om in liefde
vir Hom te kies!

Jesus, wat die naaste aan God is, het vir ons met sy lewe hier op aarde
kom wys waaroor die lewe werklik gaan! Ons moet net die keuse daarvoor
maak. Wanneer ons die ewige lewe kies, deur die liefde wat God in ons
harte plaas deur die Gees, dan gee ons ook daarmee onsself om gevorm
te word om die lewe te leef! Ons kies om gesnoei te word deur die Here
self, om waarlik vir God te leef tot sy eer.
Johannes beklemtoon dit wanneer hy in vers 3 sê: “Wat ons gesien en
gehoor het, het ons so beïndruk dat ons julle eenvoudig daarvan moet
vertel.” Ons moet dit ook gaan vertel, so tussen alle gesprekke deur kan
jy getuig Wie Jesus is, en dat jy nóú reeds vir ewig saam met Hom leef!

Ernest