Ons moet besef dat God voortdurend besig is om ons te vorm
om die beeld van Jesus te vertoon. Jesus het die mooi beeld gebruik
dat ons gesnoei word om meer vrug te dra, vrug wat sal hou.
Partykeer dink ons die snoeiwerk is te erg op ons. Ons kry selfs swaar
en wonder “hoekom Here?” Dit is dan wanneer ons ook op die uitkoms
gefokus moet wees. God is nie “doelloos” met ons besig nie. Ons moet
besef Hy is met ons op pad na die beste wat Hy vir ons bedoel.
Daarom moet ons voortdurend seker maak dat ons op die pad is
waarop God ons wil hê. Ons moet nie eers probeer om bewustelik
een millimeter daarvan weg te beur nie. Laat die Heilige Gees jou vorm,
deur die woorde van Jesus in die Woord van God.
“Jesus het vir ons belangrike dinge kom sê. Ons het mooi na Hom geluister.
Wat Hy vir ons gesê het, vertel ons nou weer vir julle. God kan vergelyk
word met die lig wat skyn. Soos die lig die duisternis verdryf, so verdryf die
teenwoordigheid van God die Bose heeltemal” – 1 Johannes 1:5.
Jesus het as lig na die donker wêreld gekom om juis lig te bring. Jesus se
lig stel die Bose aan die kaak in ons lewe. Jesus was nie net ‘n lig wat skyn
nie, maar Hy was ook ‘n doener wat ons gewys en geleer het hoé om vir
God te lewe. Hy het gewys wat dit beteken as Hy sê ons moet God bo
alles liefhê en ons naaste soos onsself.
Ons moet eenvoudig ‘n verskil maak vir Jesus in hierdie wêreld.
Hy is ons voorbeeld en ons moet al hoe meer omvorm word deur die
Gees om die beeld van Jesus te vertoon. God gee sy Gees om ons hierin
te help! Ons is nié aan onsself oorgelaat nie. Weet dit, en laat God jou
verander deur jou denke en dade te vernuwe!
Ernest