Wanneer iemand tot bekering kom, is sonde een van die eerste
dinge waarmee jy worstel. In die verlede het dit nie soveel gepla nie.
Maar nou, nadat jy ‘n kind van God geword het, veg jy hand en tand
daarteen. Dit is ook reg so. God haat sonde! Maar mense voel later
so oorweldig deur die sonde dat hulle byna uit die samelewing onttrek.
Wat daarvan as hulle nou weer met sonde gekonfronteer word?
Bly liewers weg van alles. Gelukkig help Johannes ons met hierdie
probleem. 1 Johannes 1:7 sê in Die Boodskap:
“Maar wat nou daarvan as ons iets doen waarvan God nie hou nie?
vra jy dalk. Wel, dit is juis God se Seun, Jesus, se offerbloed wat ons
geestelik silwerskoon was – daar bly nie een sonde oor nie!
Dit beteken dat ons rein voor God kan staan.”
Hierdie is God se meesterplan. Hy het geweet dat die bose ons
dikwels gaan probeer stoomroller na die sondeval. Daarom het Hy die
kruis opgerig in Christus Jesus. Die Bose is finaal verslaan in Christus
aan die kruis. Dit is egter so dat ons dikwels weer struikel. In vers 8 sê
Johannes: “Ja-nee, moet my nie verkeerd verstaan nie:
as ons wil voorgee dat ons nooit sonde doen nie, slaan ons die bal
heeltemal mis. Wie dit sê, praat nie die waarheid nie.”
Maar dan gee Johannes hierdie belangrike waarheid aan ons in vers 9:
“As ons egter voor God erken dat ons foute gemaak het en nooit weer
dieselfde foute wíl maak nie, sal God van sy kant af heeltemal van ons
sondes vergeet. Hy sal ons ook geestelik skoon was van alles waarvan
Hy nie hou nie.” Geestelik skoon was van alles! Wat ‘n kragtige vers is
dit nie! Dit is ‘n wonderlike seën van die Here!
God sal ons sondes vergewe! Dit is ‘n sekerheid!
God is nie net die Een wat vergewe nie. Hy is ook die Een wat my laat
voortlewe tot sy eer. Die duiwel probeer dit deurgaans ontwrig, dat ek
voluit vir God lewe. Maar God rus my toe deur die Gees om vir Hom te
lewe! Ons moet nie toelaat dat die duiwel ons bly aankla oor sonde wat
God vergewe het nie! Ons moenie self “ou koeie uit die sloot grawe” nie.
God vergewe en vergeet dit! Vertrou God. Neem Hom op sy woord!
Moenie dat die duiwel weer dieselfde klip in jou skoen sit nie!
Die belangrike is dat ons van die begin af met ware berou en opregte
geloof na God gaan. Ons moet ons sonde bely met die doel om regtig
daarmee te breek. En Dan moet ons God op sy woord neem vir vergifnis,
en die lewe saam met Hom en vir Hom!
Ernest