Ons weet ons moenie sondig nie, maar ons neem gereeld
verkeerde afdraaie. Kyk net hoe waarsku Johannes ons in
1 Johannes 2:1: “Julle moet nooit iets doen waarvan God
nie hou nie.” – Die Boodskap.
Hoe goed ken ons nie die Tien Gebooie nie? En tog dwaal
ons gereeld af van dit wat ons weet God wil hê dat ons dít
moet doen! Gelukkig kan ons met hierdie sonde en frustrasie
in onsself, na Jesus toe gaan: “As een van ons egter wel so ‘n
fout maak, kan ons daarvan seker wees: ons het Iemand wat
ons op ‘n baie besonderse manier sal help. Hy sal vir ons gaan
mooipraat by ons hemelse Vader. Ons praat natuurlik van
Jesus Christus. Hy is die ideale Een om dit te doen, want die
verhouding tussen Hom en die Vader is baie goed.
Omdat Jesus dit vra, sal die Vader ons sondes oorsien.”
Ons ontvang meer as net vergifnis van God. Ons ontvang ook
God se vertroue in ons omdat Hy ons weer terugstuur na die
wêreld om ‘n verskil daar te maak, juis vir God! Ons weet ook
wat voorlê in die wêreld! Dit is nie altyd maklike omstandighede
en mense nie. Dit laat ons dan juis ook stywer vashou aan God.
Hoeveel keer het ons nie al deur hierdie proses geleef nie?
Net in verskillende vorms gegiet. Maar ons doen vandag weer
ons bes om die tyd wat voor ons ooplê, met al sy potensiaal,
te geniet en voluit daarin vir God te lewe.
Ernest