Die vrug van die Gees is liefde – Galasiërs 5:22.
Maar die grootste hiervan is die liefde! – 1 Korintiërs 13:13.
God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God,
en God in hom – 1 Johannes 4:6.

Ons besef nie werklik hoe groot die werk van die Heilige Gees
in ons lewe is nie. Sal ons dit werklik ten volle kan besef? Nee.
Juis omdat ons nie besef hoe groot die werk van die Gees in ons
is nie, beteken Christus nie in ons lewe en denke soveel as wat God
daarmee wil en bedoel nie! Dit maak dat ons geloof dikwels net ‘n
verstandelike oortuiging is. Dit maak verder dat die liefde wat die
heel belangrikste is van die vrug van die Gees in ons lewe, dikwels
die minste is!

Johannes sê in bogenoemde vers: God is liefde. Wie in die liefde bly,
bly in God en God in hom. As ons nie liefhet nie, is ons nie uit God nie!
Dit is ‘n baie belangrike waarheid. Mense vra dikwels: Waaraan weet
ek dat ek ‘n kind van God is? Onthou: aan die vrugte sal jy die boom ken.
Die vrug van die Gees is die ware vrug. Jesus beklemtoon dat die liefde
so belangrik is as vrug van die Gees, dat jy selfs jou vyande moet liefhê!
Hy het ook gesê dat ons die moet seën wat ons vervloek en vervolg!
Paulus sê in 1 Korintiërs 13 hoe belangrik die liefde is, en Johannes
beklemtoon dit in sy Evangelie en briewe. 1 Johannes 2:9: “As iemand
beweer dat hy in die lig is, maar hy haat sy broer, is hy nog steeds in
die duisternis.”

Die liefde kom eerste omdat God reeds in jou lewe eerste gekom het.
Ons het lief omdat Hy ons eerste liefgehad het. Sy liefde is die duurste
van enige iets wat ons kan bedink! Liefde vir sondaars. Ons sien dit
aan die kruis. Die duursaamste van alles is die liefde van God vir ons!
Dit is die grootste gawe wat jy kan ontvang. Nou moet ons gaan liefhê
soos God ons liefhet. Ons moet hiervoor bid.
Ons weet ons het nie altyd lus om lief te hê nie en daar is baie mense
wat ons nie eintlik wil liefhê nie. Ons moet van alles die meeste hiervoor
bid. Regtig! Ons moet bid dat ons sal liefhê met God se liefde,
altyd en oral.

Ons moet nie die Gees van liefde beproef nie. Ons moet nie die Heilige
Gees hierin weerstaan nie. Dít is ons bekering:
Om God bo alles lief te hê en ons naaste soos onsself.

Ernest