Die vrug van die Gees is vreugde, blydskap – Galasiërs 5:22.
Verbly julle in die hoop – Romeine 12:12. Verder broers,
wees bly – 2 Korintiërs 13:11. Wees altyddeur bly –
1 Tessalonisense 5 16.

Het dit jou al opgeval dat Paulus praat van die “werke” van
die vlees, maar van die “vrug” van die Gees? Hiermee bedoel hy
dat die kwaad in ons eie harte ontstaan. Ons is self daarvoor
verantwoordelik. Wanneer die duiwel ons versoek het ons steeds
self die keuse of ons gaan toegee, en of ons God se wil gaan doen.
Die goeie in ons doen en late kom egter nie uit onsself nie. Dit is
nie óns “werke” nie. Ons is tot alles wat goed is in staat deur Christus
wat ons krag gee deur die Gees. Dit is die vrug van die Gees!
Die Heilige Gees bestry die kwaad en eiegeregtigheid in ons harte,
ook ons eie verdienstelikheid. Ons moet weet dat God die bron is van
alle goeie gawes deur ons. Inderdaad is alles wat ons tot eer van God
doen, die vrug van die Gees! Ons kan op niks roem nie, ook in ons
heiligmaking doen die Gees alles. God doen alles!

Die wonderlike is dat die Heilige Gees ook die goeie werke wat ons
doen, wat Hý deur ons doen, in ons lewens sigbaar maak. Daarom
kry ons ook die opdrag om vrug te dra. Vrug wat sal hou. Hierdie
vrug is terselfdertyd ook die “goeie werke” wat die Gees deur ons
doen! Dit is die geloof wat deur die liefde werk – Gal. 5:6. Die vrug
van die Gees is nie net vrug nie, maar ook opdrag aan ons! Die vrug
van die Gees spreek uit ons dade en lewenshouding. Dit kom daarom
ook sterk uit in ons vreugde! Ons vreugde in die Here! Vreugde as
vrug van die Gees! Ons word op baie plekke in die Woord van God
opgeroep om vreugde te lééf! Ons het alle rede om met blydskap
te leef!

Is dit ‘n vreemde opdrag om vreugde te moet hê en met blydskap
te lééf? Kan ‘n mens jou diepste gevoel-stemminge willekeurig beheer?
Kan ons, in opdrag, vreugde en blydskap ervaar en gaan uitleef?

Tog is die opdrag tot vreugde en blydskap in die Woord van God nie
‘n vae oproep nie, maar inderdaad ‘n opdrag! Bogenoemde teksverse
beklemtoon dit. Lees dit weer. Ons word daarop gewys in die Bybel dat
die rede tot vreugde, die motief tot blydskap, die bron van hierdie
voortdurende blydskap, ons redding in Jesus Christus is! Ons redding,
en elke ander mens se redding! Hierdie redding is volkome onaantasbaar
en ewig! Daarom is daar rede om altyddeur bly te wees. Wanneer ons
net besef Wie ons Verlosser en Here is, en dat Hy in ons leef, en ons in
Hom, het ons voortdurende blydskap en groot vreugde! Ons vreugde is
in die Here self! Die Heilige Gees wek dit voortdurend in ons!
Vreugde is die vrug van die Gees!

Ernest