Die vrug van die Gees is vrede – Gal. 5:22.
God het ons dan nou vrygespreek omdat ons glo. Daarom is daar
nou vrede tussen ons en God deur ons here Jesus Christus – Rom. 5:1.
Die dinge waarmee die Gees Hom besig hou, bring lewe en vrede –
Rom. 8:6. As dit moontlik is, sover dit van julle afhang,
leef in vrede met alle mense – Rom. 12:8.
Die wêreld sukkel om vrede te verstaan. Daar word gereeld na
konferensie-sale gegaan om oor vrede te besin en vredesverdrae te sluit.
Elke aardse vrede dra reeds die kiem van ‘n nuwe konflik in hom. Vrede
sonder God sal nooit vrede wees nie. In die meeste aardse vredesverdrae
word net die oorwinnaar uiteindelik tevrede gestel. Dit is byna nooit dat
albei partye verloor of wen nie. Wantroue, haat, hongerte na mag, en
magteloosheid is meestal kenmerke van aardse vrede...
Christus bring ‘n ander vrede as wêreldse vrede. Ons moet die vrede van
God wat alle verstand te bowe gaan leer ken, deur die Gees. Wanneer die
Gees van God in ons woon en werk, eers dan leef ons in vrede. Die vrede
wat die Gees gee... Die vrug van die Gees is vrede!
Die eerste vrug van vrede is vrede met God!... deur ons Here Jesus Christus!
In onsself is ons nie vredemakers nie. God alleen het uit genade met ons
vrede gemaak. God het aan die kruis die mens “oorwin” en Hy laat ons in sý
kruisoorwinning deel! Dit is totaal uniek en onherhaalbaar. Net God kon en
het dit gedoen! In sy oorwinning aan die kruis kry ons oorwinning!
God oorwin aan die kruis en maak nou mense wat in Hom glo sy kinders!
So maak die God van vrede met ons vrede deur die kruis. Wow!... wil ons
uitroep en uitjuig!
In Christus het die gesindheid van God tot openbaring gekom. God het
geen behae in konflik nie, maar in vrede met ons. Tog vernietig ons onsself
as ons nie die vrede van God in Christus omhels nie. Die Heilige Gees is die
Gees van vrede wat nou ook van ons vredemakers maak.
Jesus sê in Matteus 5:9: “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders
van God genoem word.” Ons moet werklik daarvoor leef om met alle mense
in vrede te leef. Ons doen dit uit dankbaarheid vir God wat vir altyd vrede
met ons kom maak het, ons wat vyande van God was.
Sonder opoffering ter wille van Jesus, en in Jesus se Naam, sal ons nie in
vrede met mense kan leef nie. Die Gees wat in ons werk, bring die vrug
van vrede. Die vrug van die Heilige Gees is vrede!
Ernest