Die vrug van die Gees is geduld – Gal. 5:22.
‘n Geduldige mens is baie verstandig – Spreuke 14:29.
Die liefde is geduldig – 1 Kor. 13:4.
Wees met almal geduldig – 1 Tess. 5:14.
Let daarop dat Paulus van die vrug van die Gees praat.
Al die nege “dele” van die vrug van die Gees vorm saam die vrug
van die Gees. Wanneer die liefde van die Gees in ons woon, sal
vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid,
nederigheid en selfbeheersing óók in ons woon!
Die Heilige Gees wat in ons woon bring die vrug van die Gees uit
ons voort. Wanneer die liefde van die Gees nie in ons woon nie,
kom daar van die res van die vrug van die Gees ook niks tereg nie.
Ons moet ook besef: Ons kan nie sê daar is nie ruimte vir die vrug
van die Gees in ons nie, omdat ons sus of so geskape is, en nou maar
sus of so ís nie... Ek kan nie sê dat ek nou maar een maal kortgebonde
is en ‘n vinnige humeur het nie. Ek is nou maar so, en mense moet dit
aanvaar. Daar bestaan nie so iets nie. Dit is selfhandhawing van iets in
jou wat God wil verander!
Die Gees werk in jou om nie so te wees nie, maar jy weerstaan die
Heilige Gees! Intussen is daar mense wat nie eers kinders van die Here
is nie, en tog in dié opsig meer selfdissipline toepas as gelowiges in
Christus. Nee... God se Gees lei jou om geduldig te wees. Die vrug van
die Gees is geduld. Dit is ons wat die Gees weerstaan en dáárom
ongeduldig is. Die Gees is geduldig met ons! Lankmoedig.
Ons moenie toelaat dat ons eie menslike drifte en instinkte ons
lewens beheers nie. Dit veroorsaak chaos in ons, en om ons.
Wanneer ons leef onder beheer van die Heilige Gees, met die geduld
wat die Gees ons gee, as vrug van die Gees, ontvang ons telkens nuwe
krag om gehoorsaam aan die Gees te wees!... en nie aan onsself nie.
Dit bly ook ‘n geval van die liefde. Liefde is eerste, die eerste vrug van
die Gees. Met liefde as vrug van die Gees kan ek die gebreke en sonde
van my naaste verdra met geduld. Sonder liefde... hoe sou ek dit dán
ooit kon dra!? Hoe sou God my kon verdra as God Self nie liefde was
nie? Wanneer ons ongeduldig is, sê dit ook veel oor ons liefde vir
mense. Hoe geduldig is jy? Die vrug van die Gees is geduld.
Ernest