Die vrug van die Gees is vriendelikheid – Gal. 5:22.
Ons is in die oog van God nie van nature nie vriendelik,
inskiklik, beheerbaar, en bruikbaar nie. Ons is eerder selfsugtig,
eiegeregtig en onbruikbaar. Die grootste oorsaak van ons
onbruikbaarheid lê in ons liefdeloosheid en selfsugtigheid.
Ons is selfgerig. Die diepste oorsaak hiervan lê op sy beurt weer
in ons God-lose bestaan waarin God radikaal moet ingryp.
Wanneer dit gebeur, kom woon Christus in ons deur die Gees,
en ons begin deur die liefde van Christus lewe! Dan dra ons die
vrug van die Gees en die vrug van die Gees is ook vriendelikheid.
Die vrug van die Gees is nie humanisties nie. Jesus was nie ‘n
humanis nie. Dit gaan in Christus oor die eg menslike en oor
menseverhoudings, soos God dit bedoel. Die mens staan nie hierin
sentraal nie, maar God en die eer van God is waaroor dit alles gaan!
Die evangelie van Jesus Christus is eg menslik, maar gaan nie oor
humanisme nie, omdat God in Christus die menslike herstel en red
om weer te beantwoord aan God se skeppings-doel met die mens.
Die mens moet weer mens word soos God die mens geskep het en
bedoel het, vóór die sondeval. Regtig mens in liefde, vreugde, vrede,
geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid
en selfbeheersing.
Mense wat in die daaglikse lewe nie vriendelik en inskiklik is nie,
maar strak en koud, en net op hulleself gerig is, behoort te bid om
bekering, weg van hulleself, vergewing van hulle sonde, en vernuwing
deur die Heilige Gees. Waarom sê ons nee wanneer ons ook ja sou kon
sê om iemand in nood te help? Waarom maak ons die lewe van ons
medemens moeiliker deur alles uit die oogpunt van eiebelang te sien?
Vriendelikheid en inskiklikheid is vrug van die Heilige Gees!
God se wil en God se eer is belangriker as onsself!
Daar is ‘n spreekwoord wat sê: Skryf die dade van vriendelikheid wat
aan jou bewys is op marmer, en die seerkry wat jou aangedoen is in stof.
Só sal jou dade van vriendelikheid ook in ander se lewens geskryf word.
Die vrug van die Gees is vriendelikheid!