Die vrug van die Gees is goedhartigheid – Gal. 5:22.
Die liefde word sigbaar in goedhartigheid. Hiermee word ook
goedgesindheid bedoel. Deur die genade van die Here is daar
baie mense wat werklik goedhartig is en hul medemens met
goedgesindheid hanteer. Dit maak die onmenslike in die wêreld
soveel minder.
Die Heilige Gees skenk hierdie gawes aan mense. Ons ervaar dit
ook by nie-Christene. God beskerm inderdaad die algemeen-menslike
van die Bose. Thomas Carlyle het gesê: “Die goeie lewens van miljoene
onbekende mense is soos ‘n sterk stroom water wat wel ondergronds
loop, maar daar in die geheim sorg dat die gras groen is en die
veldblomme bloei.” Hoeveel te meer moet Christene, wat deur die
Gees nuut gemaak is in Christus, nie juis die goedheid van God
konkreet gaan uitleef nie!?
Dit is sonde en die weerstaan van die Heilige Gees as ons nie
welwillend en goedgesind teenoor ons naaste is nie. Wanneer ons
gesalf is deur die Heilige Gees en die Gees in ons woon, sál ons
goedhartig wees, welwillend en goedgesind. Paulus gee met fyn
humor in Romeine 15:14 ‘n pluimpie aan die gemeente in Rome,
juis om hulle daardeur nog meer aan te spoor om goedhartigheid
te openbaar: “Maar ek self ook, my broeders, is oortuig aangaande
julle, dat julle self ook vol van goedheid is, vervuld met alle kennis,
in staat om ook mekaar te vermaan.” – Ou Vertaling.
Die “vol van goedheid” is ook goedhartigheid. Om mekaar te
vermaan impliseer ook dat daar ‘n goedhartigheid is teenoor mekaar.
Die vrug van die Gees is goedhartigheid.
Ernest