Die vrug van die Gees is getrouheid – Gal. 5:22.
Wat bedoel Paulus hier met die woord “getrouheid”?
Moontlik moet hierdie woord so allesomvattend as moontlik
opgeneem word. Ons sal steeds daarmee getrou bly aan die
bedoeling van God se woord. Die woord “trou” word tog ook
hiermee bedoel, sowel as “glo”. Ons kan dus opnoem:
Die vrug van die Gees is geloof in en vertroue op God, en op
Christus, op sy Woord, sy evangelie, sy wet, sy ryk, sy toekoms,
sy oorwinning vol van genade en waarheid. Maar die vrug van
die gees is ook getrouheid aan God en sy Woord. Wanneer jy
opreg glo dat God teenoor jou getrou is, sal jy juis in dié geloof
getrou wees aan God!
Maar die Gees stel ons nie alleen in ‘n verhouding van vertroue
teenoor God nie, maar ook in ‘n verhouding van geloof en vertroue
van mens tot mens. Wanneer die mens geen vertroue in mekaar
het nie, dan is daar geen gemeenskaplike bodem onder ons nie,
geen gemeenskaplike taal waardeur ons mekaar kan verstaan nie.
Alles verloor dan sin. Sonder enige vertroue kom omgang tussen
ons en God en mens tot mens tot stilstand.
Waar liefde heers, is daar vertroue. Wanneer Paulus sê dat die
liefde alles glo, het dit niks te doen met goedgelowigheid nie,
of ‘n gebrek aan mensekennis nie. Nee. Dit beteken dat ons
mekaar alleen kan vertrou as ons mekaar liefhet.
Die Heilige Gees gee die liefde van God in ons hart. Die Gees
stort dit in ons hart uit. Hierdie liefde is die liefde wat God vir
ons het, en tegelyk ook die liefde wat ons vir God en ons naaste
moet hê. Die wet van God word eers vervul deur die liefde!
Die Here Jesus het dit duidelik gestel! Uiterlike voorskrifte en
die nakoming daarvan, is nie die swaarste eis van die wet nie.
Die liefde bring die getrouheid aan God en aan mekaar.
Ons moet telkens terug na Christus toe, weer en weer in ons
daaglikse lewe. Hy wil sy Gees in ons hart stuur om die regte
verhouding tussen ons en God en ons en ons medemens te
herstel, en dit in stand te hou. Daarin lê ons getrouheid.
Die vrug van die Gees is getrouheid!
Ernest