Die vrug van die Gees is nederigheid – Gal. 5:23.
Nederigheid kan ook met sagmoedigheid vertaal word.
In die moderne wêreld is dit baie mense se oortuiging en
belewenis dat daar nie meer plek vir nederigheid is nie. Mense
sal eenvoudig op jou bly trap terwyl jy nederig is, word gesê en
gedink. Die vermetele mense in die samelewing, kom dus die
verste in hierdie lewe. Hulle laat nie toe dat enige iemand druk
op hulle plaas nie en klim net bo-oor ander om hulle doel te
bereik. Moet ons na hulle luister, of na Jesus? Dit gaan tog oor
God se wil, en nie oor wat ek kan “wen of verloor” nie.

Jesus sê dat die vermetele mense nie die aarde sal beërwe nie,
maar die nederiges, die sagmoediges sal wel. In Matteus 5:5:
“Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die nuwe aarde
ontvang.” Die nederiges en sagmoediges is die mense wat geleer
het om nie te gou verontreg te voel nie, nie so prikkelbaar te wees
nie, en wat toegewings kan maak as God dit in sy koninkryk van
hulle vra. Die sagmoediges stap die tweede myl saam, geen nie
net die onderkleed nie maar ook die bo-kleed, en hulle draai ook
die ander wang. “Losers”, soos hulle in Engels sê? Nee.
Hulle doen juis die wil van God! Of die wêreld daarvan hou of nie,
en of die wêreld dink hulle is verloorders of nie, in God se oë
is hulle oorwinnaars!

Dit druis natuurlik teen ons hele menslike natuur in. Sagmoedigheid
en nederigheid. En omdat baie van ons dit self nie doen om sagmoedig
en nederig te leef nie, praat ons neerhalend van sagmoediges en die
nederiges. Ons dink hulle is ruggraatloos. Ons wil eerder sterk en
gehard oorkom. Intussen is óns nie sterk genoeg om sagmoedig en
nederig te wees nie. Dit vra soveel van jou dat dit die vrug van die
Gees is! Ons is te swak om dit uit onsself te wees! Ons is bang om
so te wees omdat ons die geheim van lewenswins en lewensverlies
so sleg ken.

Nederigheid is die vrug van die Gees en nie van eie menslike
pogings nie. Nagemaakte of ‘n valse nederigheid wat ons self
probeer ten toon stel sal nie die toets slaag nie. Ware nederigheid,
ware sagmoedigheid, sal die nuwe aarde ontvang.
Nederigheid is die vrug van die Gees.

Ernest