Selfbeheersing is die vrug van die Gees – Gal. 5:23.

“Paulus het met hom gepraat oor ‘n lewe in gehoorsaamheid
aan God, oor selfbeheersing en oor die komende oordeel. Dit het
Felix laat bang word, en hy het gesê: “Dit is nou genoeg! Gaan
maar terug , en as ek tyd het, sal ek jou weer laat roep.”
Terwyl Paulus so in die algemeen oor Christus gepraat het, het
Felix dit interessant gevind. Maar toe die evangelie-boodskap ‘n
beslissing van hom vra, het hy selfbeheersing verloor. Hy het gou
aan Paulus se boodskap ‘n einde gemaak. Felix se begeertes het
nie grense geken nie, en hy verloor sy selfbeheersing.
Selfbeheersing vra ook ‘n offer ter wille van jou naaste.

Nêrens veroordeel die woord van God selfbeheersing, ingetoënheid
of onthouding nie. Die mens wat iets leer ken het van die hoogste
waardes in die koninkryk van God, weet iets van wat dit beteken om
“alles te verlaat” ter wille van Christus, om “alles te verkoop” ter wille
van een kosbare pêrel.

Felix wou niks daarvan weet nie. Wanneer die eer van God of die heil
van ons naaste dit eis, moet ons vrywillig afstand doen van dit wat
opsigself goed mag wees, maar in ‘n bepaalde situasie gevaarlik en
dus verkeerd kan wees. ‘n Sportman wat hom weerhou van drank
en rook, met die doel om te presteer, motiveer ons wat soveel meer
op die spel het, die koninkryk van God.

Ons moet die selfbeheersing voeg by die kennis van Jesus Christus,
om sodoende in staat te wees om in selfbeheersing te volhard in
die stryd van ons geloof. Ons moet onsself ondersoek met die oog
op hierdie vrug: Selfbeheersing. Selfbeheersing is die vrug van die Gees.

Ernest