Tomas wou nie glo op grond van of op gesag van die ander dissipels
se getuienis nie. In Johannes 20:25 lees ons: “Die ander dissipels sê
toe vir hom: “Ons het die Here gesien!” Maar hy sê vir hulle: “As ek
nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die
merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek
nooit glo nie.”

Die dissipels is opgewonde en getuig op grond van wat hulle gesien
het! Tomas se reaksie is dat dit onmoontlik is. Hy glo nie op gesag
van ander nie. Hy wil dit self sien. Waarom kon of wou Tomas nie
glo dat Jesus opgestaan het nie? Het hy nie geglo wat vir God
moontlik is nie? Het hy nie die ander dissipels vertrou nie?
Wat ookal die rede, die feit bly dat hy nie geglo het nie. Hy wou sien,
aanraak. Hy eis die wonde van Jesus as bewysstukke. Dan sou hy glo
dit is Jesus wat aan die kruis gesterf het en opgestaan het.

Ons hoor dikwels die uitdrukking: “Ek is maar ‘n ongelowige Tomas”,
om te sê sien is glo. Mense aanvaar nie eenvoudig getuienis van
ander nie. Hulle soek bewyse. Hulle wil self sien en daaraan vat.
Ons moet onthou dat daar meer as één soort bewys en sekerheid is
en ook meer as een manier om sekerheid oor iets te kry. Elke ding
het sy eie aard, en daarom is daar ook ‘n ooreenstemmende manier
om elke ding te “bewys”, of te glo.

Om te bewys dat ‘n tas 10 kilogram weeg, moet ek iets anders doen
as om te bewys dat ‘n kind bo normaal intelligent is. Ons hoor soms
die eis: “Bewys my dat God bestaan, dan sal ek glo”. Dan verwag die
ongelowige ‘n soort wiskundige of “menslike” bewys dat God bestaan.
Asof ons God op ‘n skaal kan sit en Hom weeg.
Ons sou met ‘n teen-vraag kon vra: “Bewys vir my dat die musiek van
jou gunsteling komponis mooi is.” Dit is tog onmoontlik om dit te bewys.
Die blote feit dat ‘n man van sy vrou eis om te bewys dat sy hom liefhet,
is byvoorbeeld alreeds ‘n teken dat iets skeef loop. Nog meer...
Die feit dat iemand kan vra: Bewys vir my dat die wêreld en al die dinge
rondom ons bestaan, kan al wys dat die persoon nie meer normaal
oordeel of glo nie.

So is dit ook met iemand wat vra na ‘n bewys dat God bestaan.
Hy het die besondere bewys verloor wat ons van God se bestaan het,
naamlik die GELOOF. Ons glo tog baie dinge wat ons nie kan sien nie...
soos om ‘n koffie afspraak na te kom met iemand omdat jy gló hy gaan
daar wees, al kan jy dit nie “sien” nie! Tomas het in ongeloof sy eise gestel.
Geloof in God is ook om te glo, al sien ons nie... en eintlik “sien” ons
alreeds so baie van Hom! Juis deur die geloof wat Hý gee!
Die Heilige Gees getuig saam met ons, in ons, en ons glo!

Ernest