“Maar Jesus het dit gehoor en sê vir hom: “Moet jou nie ontstel nie,
Glo net, en sy sal gered word.” – Lukas 8:50. Die pa van hierdie
dogtertjie wat gesterf het hoef niks te doen nie behalwe: Glo net!
“As ‘n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil.
Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy die wat Hom
soek, beloon.” – Hebreërs 11:6.
Waarom heg God soveel waarde aan ons geloof? Waarom gaan die
ongelowige verlore maar die gelowige word gered? Al ons goeie
werke kan ons nie red nie, en tóg red ons geloof ons? Waarom vra
die Evangelie van die begin af geloof, in Markus 1:15:
“Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het
naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.” Glo net! God vra nie
meer nie. Maar sonder geloof is geen behoud moontlik nie. Lees weer
bogenoemde Hebreërs 6:11. Dit is duidelike taal.
Hoekom is die geloof beslissend? Dit is nie omdat ons geloof iets
besonders by God “verdien” nie. Dit is omdat God Self bepaal dat
geloof die enigste normale wyse is waarop ons in gemeenskap met
Hom kan lewe.
Ons verhouding met God is óók ‘n sedelike verhouding. In so ‘n
verhouding is geloof en vertroue onontbeerlik. As jy ten onregte jou
beste vriend nie meer vertrou nie, kan julle maar afskeid van mekaar
neem, want sonder vertroue kan dit nie meer jou beste vriend wees
nie. Wantroue skep uiteindelik ‘n volledige breuk.
Ons diepste sonde teenoor God word dan uiteindelik ons ongeloof
en wantroue in Hom. Wantroue, ten onregte, is dan die allergrootste
belediging. Alle gemeenskap kom tot stilstand en die dood tree in,
in so ‘n verhouding. Daarom is geloof vir God so belangrik!
Ongeloof en wantroue in Hom is die allergrootste belediging wat
ons Hom kan aandoen. Wantroue neem die basis vir ontmoeting
met Hom weg. Wanneer ons God nie vertrou nie, kom alles tot
stilstand. Alles sterf...
Wil ons God se redding ervaar? Die eerste voorwaarde is om God
onvoorwaardelik te vertrou en Hom op sy woord te neem. Dit is
geloof! Dit is onmoontlik om met God in verhouding te leef sonder
vertroue in Hom. Bybelse geloof is veel meer as om net sekere dinge
te glo. Dit is geloof wat jou totale lewe raak, jou ganse verhouding
met God in Christus Jesus. Geloof verander jou totaal. Jy was dood,
nou léwe jy. Daarom is geloof alles-beslissend. Geloof in God is om
mét God en totaal uit God te lewe.
Ernest