Geloof is eintlik om te durf glo! Om met moed en vrymoedigheid
te gló! Matteus 15:28: “Mevrou,” sê Jesus vir haar, “jou geloof is
groot. Jou wens word vervul.” Lukas 23:43: “Jesus antwoord hom:
“Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”

Ons geloof in God is eintlik ‘n element van heilige brutaliteit.
Geloof is om te durf glo! Ons kan eensydig ons oog op God rig en
ons sonde nié sien nie. Ons loop ook die gevaar om die vergewing
van sonde as vanselfsprekend te sien. Dit is nou eenmaal God se
werk: om genade te bewys en om sonde te vergewe. Dan sien ons
nie die verhouding tussen God en ons suiwer nie. Ons besef dan
nie Wie Hy Self is nie! Dan vergeet ons ook wie ons is. ‘n Kind wat
dit net as vanselfsprekend aanvaar dat sy ouers maar net altyd
ónvoorwaardelik “daar is” vir hom, en moet reg staan vir hom,
tas die ouer-kind verhouding in sy wese aan.
So ook met ons en God.

Ons kan ook in ‘n ander uiterste verval. Jy kan so besig bly met jou
eie onwaardigheid voor God, dat jy God se liefde en genade vir jou
uit die oog verloor. Tereg dink jy dan min van jouself, maar jy begaan
dan tegelyk die fout om min van God se liefde en genade te dink.
Asof sy genade en liefde nie genoeg is om jou skuld te vergewe nie.
Dan maak ons of God óns ons vertroue op Hom kwalik sal neem!
Goddank, daar is nie een aanduiding in die Bybel dat God iemand
kwalik neem dat hy durf glo nie! Wanneer ons die brutaliteit, die
moed en vrymoedigheid bymekaarskraap, om te gló, is daar vreugde
in die hemel! Juis dan vertrou ons God onvoorwaardelik en eer Hom!

Die heidense vrou in bogenoemde Matteus 15 het eintlik alles téén
haar gehad. Sy staan volgens die Jode buite die verbond met Israel.
Op watter gronde kan sý pleit vir die genesing van haar dogter?
Jesus verduidelik dat Hy allereers gekom het vir die verlore skape
in Israel. Terwyl sy haar regteloosheid erken, gló sy nogtans!
Sy durf om te glo, en haar op Jesus se ontferming te beroep.
Wat doen Jesus? Hy neem haar juis nié kwalik nie! Sy het niks van
haarself gedink nie, maar alles van Hom verwag! Wat is hierdie
getuienis nie ten opsigte van óns nie!

Dit is goed en reg dat ons bekommerd is oor ons eie onwaardigheid.
Maar watter soort “vroomheid” is dit wat ons daartoe bring dat ons
so min van God se genade dink dat ons oortuig is ons sonde is te
groot om deur God vergewe te word? Jesus het selfs aan die kruis nie
die moordenaar se geloof hom kwalik geneem nie. Hy vergewe Hom!
Maar Jesus sal ons wel ons ongeloof en ons kleingeloof kwalik neem.
Geloof is... om te durf glo! Ten spyte van.
Lukas 8:50 sê... Gló net!

Ernest