Jakobus 2:26: “’n Liggaam wat nie asem haal nie, is dood.
So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood.”
Die fronte waaraan die Bybel-skrywers veg, wissel voortdurend.
Soms word ons gewaarsku om nie net met onsself en ons eie
geloofslewe besig te wees nie, maar ons lewe op Christus te rig
omdat Hý die Voorwerp van ons geloof is. Maar op ander bladsye
in die Bybel vestig God ook weer die aandag op onsself. Soos in
Jakobus 2:19: “Glo jy dat daar net een God is? Dit is reg. Die duiwels
glo dit ook – en hulle sidder van angs.” Die duiwels se geloof red
hulle nie! God vra dus ook ons ernstige aandag vir die kwaliteit
van ons geloof. Geloof gaan oor in dade!
Alle geloof is nie maar goed genoeg nie. Ons kan op ‘n verkeerde
manier glo deur maar net bepaalde dinge ván Jesus te glo, sonder
om werklik ín Hom te glo. Om ín Jesus te glo, is om te vertrou dat
alles wat Hy gesê en gedoen het óók vir mý persoonlik is, en dat Hy
mý lewe totaal wil verander tot God se eer.
Hierdie is ‘n baie ernstige saak. Ons kan dit nie ontduik deur te sê
geloof het nie ernstige implikasies vir my persoonlike lewe nie.
Dan is dit ‘n dooie geloof en vergeefse godsdiens.
Die hele problematiek van selfondersoek en van die kenmerke van
ware en valse geloof kom in die soeklig. Die gevaar is dat ons
kenmerke opstel wat nie in die Bybel staan nie. Ons moet eenvoudig
net in die Bybel alleen kyk as die spieël wat God vir ons gee. Die Bybel
is soos ‘n tweesnydende swaard wat ons diepste bedoelings beoordeel.
Die kenmerke van ware geloof is kortliks dat hierdie geloof lei tot
bekering in mý lewe, die afsterwe van mý ou leefwyse, en die
opstanding in die nuwe lewe wat aan God gewy is, en vir Hóm gelééf
word. By God tel goeie werke alleen wanneer dit die vrug is van ware
geloof en bekering! Die mens wat in die “vergewing van sondes” glo
en bly voortleef in die sonde, en God nie toelaat om sy lewe te verander
nie, het geen deel in die vergifnis nie. Jy word dan mislei deur jou eie
dooie geloof wat nie kan red nie! Jakobus 2:14:
“Wat help dit my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade
bevestig dit nie? Kan so ‘n geloof ‘n mens red?”
“’n Liggaam wat nie asem haal nie, is dood.
So is ‘n geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood.” – Jak. 2:26.
Die ware geloof is nooit onvrugbare geloof nie. Ons word verseker
gered deur die geloof alleen – Sola Fide – maar geloof bly nooit alleen nie.
Ware geloof bring altyd ‘n lewe van toewyding aan God in die praktyk van
die lewe. ‘n Lewende geloof beteken God gee in Christus vir mense die
ewige lewe, om dit nóú reeds vir Hom te lééf! Glo net! En doen jou geloof!
Ernest