Matteus 25:3: “Die onverstandiges het hulle lampe gevat maar nie
ekstra olie met hulle saamgeneem nie... ” 1 Johannes 3:14: “Ons weet
dat ons klaar uit die dood na die lewe oorgegaan het, want ons het ons
broers lief. Wie nie liefhet nie, bly in die dood.”
Daar is baie misverstande, verwarring en misbruike by mense oor die
kenmerke van ware geloof. Die Bybel praat egter met groot klem op sulke
misverstande en verwarring van wat egte geloof is. Alles wat bestaan het
tog kenmerke en tekens. So ook met die ware geloof waarvan die Bybel
praat. ‘n Voorbeeld: Hoe weet ek dat iemand leef! Deur die feit dat sy hart
klop, dat ‘n polsslag voelbaar en sigbaar is. Dat hy asem haal. Alles het
kenmerke: Liefde en haat, waarheid en leuen, goed en kwaad.
Die ware geloof, Bybelse geloof, het ook kenmerke. Sonder kenmerke
sou dit niks wees.
Die verstandige meisies, in die gelykenis wat Jesus vertel, was verstandig
omdat hulle nie alleen hulle lampe nie, maar ook olie saamgeneem het.
Hulle het hulle taak met erns en toewyding aangepak. Die dwaasheid
van die dwase meisies het geblyk uit hulle agtelosigheid om die olie te
vergeet. Dit is ‘n gebrek aan erns en toewyding. Sowel die verstandige
meisies as die onverstandige meisies het geglo dat die bruidegom die
nag sou kom. Hulle al tien het hom verwag. Al tien het geglo!
Maar as tien mense dieselfde glo, is dit nog nie noodwendig alles
dieselfde nie! Die ware geloof aanvaar ook die konsekwensies van die
geloof. Dit wat gevra word deur die geloof. Olie is nodig vir die lampe.
Jy moet die olie ding dóén saam met jou geloof. Valse geloof glo sonder
om te doen. Op die beslissende moment, toe die bruidegom kom,
het die vyf onverstandige meisies nie genoeg olie nie.
In die beslissende oomblik word skyn en egtheid geopenbaar.
Johannes noem ook kenmerke van ware geloof in bogenoemde teks.
Hy wat sy broer nie liefhet nie, bly in die dood. Let op: Jy word nie
oorgeplaas uit die dood in die lewe in omdat jy jou broers liefhet nie.
Dit sou beteken dat jou goeie werke jou verlos.
Nee, dit is uit jou liefde vir jou broers duidelik dat jy reeds uit die
dood oorgeplaas is na die lewe! Luther het gesê jy word nie vroom
omdat jy goeie werke doen nie, maar jy doen goeie werke omdat jy
reeds vroom is. Die boom word nie lewendig deurdat hy vrugte dra
nie. Die boom dra vrugte omdat hy lewe! Ons mag nie die kenmerke
van ware geloof die wet of vereiste maak waardeur ons gered word
nie. Ek verdien nie die vergifnis van my sonde omdat ek ander
vergewe nie. Nee, ek vergewe my naaste uit dankbaarheid omdat
God my klaar vergewe het! Wie sy naaste nie kan vergewe nie,
het nog nie die diepte van God se vergifnis ervaar nie.
Ernest