Markus 1:15: “Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk
van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”
Lukas 24:47: “... en in sy Naam moet bekering en vergewing van sondes
aan al die nasies verkondig word, van Jerusalem af en verder.”
Handelinge 11:21: “Die Here het die gelowiges gehelp, sodat daar baie
mense tot geloof gekom en hulle tot die Here bekeer het.”

Daar is veral twee soorte mense ten opsigte van geloof en bekering.
Die eerste is: Daar is sogenaamde godsdienstige mense, “goeie mense”,
wat wil glo sonder om hulle te bekeer. En daar is mense wat hulle wil
bekeer sonder om te glo. Die Bybel sê duidelik: Dit kan nie. Nie een van
die twee nie. Geloof en bekering word in een asem genoem. As die skare
op Pinksterdag uitroep: Wat moet ons dóén, dan kom die antwoord:
Bekeer julle!... en dan word agterna gesê dat hulle gelowig geword het.

Eerstens: Die mens wat in Christus wil glo sonder bekering, glo nie in
Christus nie, maar aanvaar slegs met jou verstand bepaalde goeie dinge
oor Christus.
Die tweede is net so belangrik: Wil jy jou bekeer sonder geloof in Christus,
bekeer jy jou nie tot Christus nie, maar tot jou eie opvatting van wat goed is.
Een van dié twee soorte mense staan so dikwels in ons eie skoene. Ons moet,
tot ons eie verootmoediging, altyd onthou dat byna elke dwaling en valse leer
wat ons bestry, prakties in een of ander vorm in ons eie lewe aanwesig is.
Daarom kan ons as kinders van die Here nooit op hoogmoedige wyse
dwalinge bestry en mense op die brandstapel plaas nie.
Ons moet dit altyd met die belydenis doen dat ons dit óók
in die praktyk in ons eie lewe moet bestry.

Die egtheid van bekering lê in die geloof, en die egtheid van die geloof in
die bekering. Ons moet onthou dat Christus ons hele lewe verlos.
Daarom moet ons hele lewe ook verander word. En daarom is Bybelse
geloof so omvattend, net soos Bybelse bekering ook omvattend is. Daar is
geen deel van ons lewe wat Christus onaangeraak laat nie. Geloof beteken
dat ons Christus, met sy genesende genade, letterlik oral in ons totale lewe
toelaat!

Geloof self is eintlik al ‘n daad van bekering.
Dit is ‘n volslae verandering van my siening van myself. Dit is die oortuiging
dat ek radikaal verlore is, en dat ek alleen kan lewe as ek myself prysgee en
op Christus alleen vertrou. Die wet word alleen moontlik deur die evangelie!
Dit is die goeie nuus dat ons deur Christus vrygemaak is om ons lewe totaal
aan God te kán wy. Gaan leef met oorgawe in daaglikse bekering én geloof!

Ernest