1 Johannes 5:3-4: “Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is,
is ‘n kind van God; en elkeen wat vir die Vader liefhet, het ook
die ander lief wat kinders van die Vader is. Hieraan weet ons dat
ons die kinders van God liefhet:
Wanneer ons God liefhet en sy gebooie onderhou.”
Geloof het onbegrensde krag. Daarmee word nie bedoel die
onbegrensde krag van die gelowige mens nie. Die onbegrensde krag
van die geloof is die onbegrensde krag van God in en deur die gelowige.
Die eie aard van die geloof is juis dat dit erken dat daar geen selfstandige
krag in die mens is nie, maar dat alle krag van God af kom. Selfs net om
asem te haal, kom van God af. Hy gee lewe. Die ware geloof glo nooit in
die mens nie, maar in Christus.
Dink maar net aan die Wet van God, die Tien Gebooie. Ons vind dit almal
baie moeilik om dit deurgaans te onderhou. En tog sê Johannes dat God
se gebooie nie swaar of moeilik is nie. Onderskat hy God se wet, en oorskat
hy ons vermoë? Nee. Dit is nie een van die twee nie. Johannes is nie ‘n
oppervlakkige optimis wat in die natuurlike goedheid van die mens glo nie.
Die feit is dat hy in die onbegrensde moontlikhede van God glo. As God se
liefde in ons hart uitgestort is, móét ons begin liefhê.
As God se vergewende goedheid ons lewe vervul, moet ons ons skuldenaars
vergewe. Dan kan ons nie meer anders nie en het nie meer verskonings nie.
dan leef ons in Christus deur die Gees. So oorwin ons oor die sonde. Deur
God se krag en genade. Ons dink en doen onder leiding van die Heilige Gees.
Geloof wéét juis dat ons nie die wêreld uit eie krag kan oorwin nie, maar dat
Christus dit doen, in en deur ons. Geloof deel in die oorwinning van Christus
wat Hy in ons oor die sonde behaal het.
Bybelse geloof leef uit God, en daarom in die ewigheid. Gevolglik val die
verlede en die toekoms weg in die triomfantlike hede wat nou reeds in
Christus geleef word. Die kruis en die leë graf van die verlede word in die
geloof van die hede uitgeleef! Hoe?
Ons is in die hede dood vir die sonde en leef nou vir God! En die toekoms?
Die toekoms van die nuwe hemel en die nuwe aarde trek die geloof óók in
die hede in deurdat die geloof nou reeds ons as nuwe mense in Christus
laat leef.
Die ware geloof werk deur die liefde. As ons God liefhet, is dit nie moeilik
om sy gebooie uit te leef nie. Die volgende voorbeeld help ons om
bogenoemde teks van 1 Johannes 5:3-4 te verstaan: ‘n Moeder wat haar
siek baba liefhet waak maklik by haar baba. Sy hoef nie beveel te word
om dit te doen nie. Sy kan nie anders as om dit te wíl doen nie. Haar liefde
vir haar baba dring haar. Alles kom dus daarop aan of ons werklik glo in
die Here Jesus se dood en opstanding, en die betekenis daarvan vir ons.
Die betekenis is dat ons nou dood is vir die sonde en vir God lewe...
en Hom liefhet Wie ons eerste liefgehad het. Uit God se liefde vir ons,
en nóú ook ons liefde vir God, verstaan ons wat Johannes sê in
bogenoemde vers. Uit dit alles verstaan ons dat dit nié moeilik is om
God se gebooie te onderhou nie. Die liefde van God, in Christus,
deur die Heilige Gees, dring ons! Ons kan en wil nie anders nie,
as om uit God se liefde vir ons, en ons liefde vir Hom, sý wil te doen nie!
Ernest