“...sonder hoop en sonder God in hierdie wêreld.”
– Efesiërs 2:12.
Hoe sou dit wees om totaal sonder hoop te wees?
Ons kan onsself dit glad nie indink nie. Dink net...
om geen enkele verwagting te hê nie.

Hoop, laat lewe. Lewe is tog om telkens weer die toekoms in
gelok te word. Die toekoms bepaal ook ons hede. Indien die
toekoms géén verwagting meer inhou nie, het ons nie eers
meer die moed om een tree verder te gaan nie. Wanneer jy
hoop verloor, verloor jy ook moed, en jy verloor eintlik alles.
Daar is dit die grens waar alles ophou. Daar waar geen hoop
is nie. Iemand het gesê dáár pleeg jy eintlik selfmoord...
daar waar jy totaal geen hoop of verwagting meer het nie.
Jy kan nie leef sonder hoop nie.

Tog deins die meeste mense vir selfmoord terug omdat die
dood vir hulle net so duister is as die lewe sonder hoop.
Net so sonder verwagting. Dit is die vreeslikste situasie...
wanneer jy nóg van die lewe, nóg van die dood, enige
verwagting het.

In die Bybel gaan dit nie net oor die hoop op die onmiddellike
toekoms nie, maar ook hoop vir die verste toekoms, die ewige
toekoms. Net God bied werklik hoop vir die naaste toekoms,
sowel as die verste toekoms. Net God is magtig om dit te kan
bied. By elke doodloopstraat waar die mens en die wêreld,
die lewe en die dood, niks meer aan te bied het nie, staan God
met alles wat regtig saak-maak, met alles... om te gee vir dié
wat vir Hom kies en leef. Daarom is dit skrikwekkend as ‘n mens
by die grense van sy lewe kom, en nie vir God in Christus ken nie.

Die mens sonder God het hoogstens ydele hoop. Maar daarop
volg uiteindelik totale ontnugtering. Alles wat tydelik is val weg...
eer, posisie, gesondheid, dit alles val weg, en selfs die waan dat
die dood maar net die “dood” is en niks daarná nie.
Wat ‘n ontnugtering wag nie dán nie!

Ook Paulus herinner die bekeerde heidene aan die hopelose
toestand toe hulle nog sonder God was. Sonder Hom geleef
het. Dit beteken dat jy dink jy is in beheer van jou eie toekoms.
Dit is tevergeefs om dit te dink. Egte toekoms, hoop en
verwagting kry jy eers in die lewe aan God gewy. Die lewe in
Christus deur die Gees. En dit is net God wat hierdie lewe gee,
in en deur Christus en die Heilige Gees. Hierdie hoop is nie die
laaste uitweg nie. Mense sonder God verwag ‘n hooplose einde.
Dit moet verskriklik wees. Mense van God het Christelike hoop.
Christelike hoop is om te weet dat my lewe en my lotgevalle in
die goeie Vader-hande van God is! Leef met hierdie hoop.
Ander verwag ‘n hooplose einde, maar die wat in God glo,
het eindelose hoop!

Ernest