Wanneer Paulus sy eerste brief aan Timoteus skryf,
dan sê hy in die aanhef: “Van Paulus, ‘n apostel van
Christus Jesus in opdrag van God ons Verlosser en van
Christus Jesus ons Hoop.” – 1 Tim. 1:1.
Ware hoop, Christelike hoop, is eintlik geloof wat uitstrek
na die toekoms. Die Christelike hoop is die geloof wat sterk
genoeg is om deur die laaste krisis van die dood en oordeel
te breek. Ons kan nooit ware hoop op die mens en sy eie
moontlikhede bou nie. Dit sal gou ineenstort. Hoop is egter
gebou op ons grote God en Verlosser, Jesus Christus, deur
die Gees wat in ons woon. Alleen die inhoud van ons hoop,
Christus Jesus, maak ons hoop onaantasbaar. Ons moet leer
om ons hoop net op Hom te bou. Wat Christus gedoen het
en steeds doen, is alles oorwinnend!

Jesus Christus staan by die laaste grens van ons bestaan.
Hy “wag” vir ons! Die beste lê nog voor! Maar wie Christus
nie ken as die inhoud van sy hoop nie, gaan uiteindelik die
duisternis binne. Paulus skryf aan Titus dat die gelowiges nie
hoef te huiwer vir die gedagte om by die laaste grens God se
heiligheid en oordeel te ontmoet nie. Wat bedoel hy?
Is dit waar? Het ons enige hoop? Ja! Want die grote God en
ons Verlosser Jesus Christus “... het Homself vir ons as offer
gegee om ons van alle ongeregtigheid vry te maak en ons
van ons sonde te reinig, sodat ons sy eie volk kan wees,
wat ywerig is om die goeie te doen.”

By die laaste grens sal Hy ons Redder en ons Regter wees.
Tans leef ons in die hoop op die toekoms, en hoop op sy
heerlike verskyning met die wederkoms. Hoe meer Christus
die uitsluitende inhoud van ons geloof word, hoe sterker
vlam ons hoop op! En ook omgekeerd... dink daaroor.

Ernest