“En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie.
En die grootste hiervan is die liefde!” – 1Korintiërs 13:13.
Hoop kan nie apart bestaan nie. Ook nie geloof of liefde nie.
Wat is geloof tog sonder hoop, verwagting, of uitsig? Dit sal
dooie geloof wees. En wat is geloof sonder liefde? Ook dit sal
dooie geloof wees. Geloof werk immers deur die liefde – Gal. 5:6 –
“...Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan”.
Net so is liefde sonder geloof en sonder hoop geen egte liefde nie.
Paulus sê tog dat die liefde alle dinge hoop en alle dinge glo.
Wanneer hy dan sê: “En nou: geloof, hoop en liefde bly...” bedoel hy
daarmee dat die normale verhouding tussen God en mens,
én tussen mens en mens onderling, al drie hierdie dinge insluit.
Geloof, hoop en liefde.
Veral in die tyd waarin ons leef, maar ook deur die eeue heen,
word daarop gewys dat die mens in verskillende angs-situasies leef.
Die mens voel hom dikwels in sy hele bestaan bedreig. Dink maar
aan die risiko van kernoorloë. Die klimaat-krisis van die wêreld.
Misdaad. Oorloë. Mense leef ook vereensaam. Mense mis
geborgenheid en liefde. Kyk net wat is die omset van medikasie
vir angs en spanning. Dikwels voel mense eenvoudig dat hulle
skuldig staan, sonder om eers te besef presies waarvoor.
In hierdie ongeborgenheid en skuldige bestaan kom verskyn God,
in Jesus Christus. Hy het nie gekom om die mens die genadeslag
toe te dien nie, maar om die mens te red! Hy kom sit sy arms om
ons en neem ons in beskerming! Die Here is die enigste Een aan
Wie ons met reg ons totale vertroue kan gee. Ons totale vertroue
op Hom! Hy beskaam ons nooit nie. Ons geloof rek in Hom uit tot
ewige hoop en verwagting, onder letterlik alle omstandighede!
Ons kan deur die grootste vuurproef gaan, stééds geborge in sy
liefde en genade. In gemeenskap met Hom!
Paulus beklemtoon daarom geloof en hoop, want daarsonder
is geen lewe in God se liefde moontlik nie. Tog is God se liefde
die grootste van die drie. Dit is veral omdat God self liefde is.
Geloof en hoop is die middele waardeur ons in God se liefde
kan leef. Om in God se liefde te leef, beteken dat Hy ons
oneindig liefhet, en dat ons Hom en ons naaste liefhet.
Gaan leef nou in geloof, hoop en liefde. En die grootste in
jou lewe is jou liefde vir God, en daarom ook vir jou medemens.
Ernest