“Maar ons wat van die dag is, moet nugter wees;
ons moet geloof en liefde as borsharnas dra en die
hoop op verlossing as helm.” – 1 Tessalonisense 5:8.
Volgens Paulus word die lewe van die gelowige van alle
kante af bedreig. Ons kan nie sonder die wapenrusting
van God leef nie. Ons loop in die slagveld van hierdie
lewe waarin die Bose ons wil vernietig. Ons kan nie in
ontspanningsdrag leef nie. Ons moet God se wapenrusting dra.
Selfhandhawing sal ons nêrens bring nie. God se wapenrusting
laat ons nie net veilig voel nie. Ons ís ook veilig daarin.
Ook in hierdie bogenoemde vers in die Bybel beklemtoon
Paulus geloof, hoop en liefde. Dit is die wapenrusting wat
ons moet dra.

Ons kan waarlik net voluit as mens leef as ons hoop en uitsig het.
Ons bou al ons hoop op God wat onveranderlik is in sy almag en
liefde. In Jesus Christus kan ons aanhou hoop sonder vrees of
ontnugtering. Hierdie hoop op verlossing is die helm wat ons
lewe teen alle aanslae sal beskerm. Ons is vir ewig in God se
hand. Niks kan ons van Hom skei nie.

Rubem Alves het gesê: “Hoop is om die melodie van die
toekoms te hoor. Geloof is om nou reeds op die maat daarvan
te begin dans.” Ons hou vas aan die hoop op die Here omdat
ons aan die Here van die hoop behoort.
Hoop is die onwankelbare sekerheid dat God se beloftes sal
realiseer – gegrond nié op ‘n ydele wens nie, maar op die
werklikheid van die lewe, sterwe en opstanding van Jesus
Christus! Gaan lééf op volspoed in hierdie geloof,
hoop en liefde!

Ernest