“In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus
die Here. Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen
wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.”
– 1 Petrus 3:15.
Wanneer jy sê dat jy jou hoop op Christus vestig, sê jy daarmee
iets geweldig groot! Jy getuig dat jy ‘n nuwe mens geword het,
dat jy ‘n kind van God is, dat jy vergifnis van sonde ontvang het,
en dat jy ‘n erfgenaam van die nuwe aarde is. Erfgenaam van alles
wat God in Christus gee. Hierdie is verseker nie kleinighede nie.
Sulke uitsprake kan nie net lippetaal wees nie, maar moet met jóú
lewe bevestig word. Indien dit nie met jou leefwyse bevestig word
nie, word dit bespotlike bewerings en pretensie. Woorde wat nie
klop met die werklikheid van jou leefwyse nie, word ergernis, spot
en haat by mense wat nie kinders van God is nie. Jou getuienis is
ook daarmee heen. Vir mense wat nie vir Christus volg nie,
is hierdie aansprake in die eerste plek vreemd en onbegryplik.
As jou lewe dan nog téén jou woorde getuig, is jou getuienis vals.
Petrus ken die posisie van die kerk in hierdie wêreld. Die wêreld
roep die kerk tot verantwoording.
Ons moet leef wat ons as gelowiges getuig. Die wêreld roep jóú
getuienis tot verantwoording. Daarom moet ons altyd “gereed
wees om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van ons ‘n
verduideliking eis oor die hoop wat in ons leef.”
Ons kan nie groot aansprake op hoop hê wat nie deur ons lewe
bevestig word nie. Wat is Petrus se raad? Begin deur jou hele
hart vir Christus te gee. Gee jou hele lewe vir Hom. Dan kan jy
met sagmoedigheid, én oortuiging, én ‘n goeie gewete
verantwoording doen oor die hoop wat in jou lewe.
Al het hulle wat nog buite staan dan ook hoeveel teoretiese
besware teen die evangelie, en teen die kerk, en teen jou, sal
hulle later tog in hulle gewete moet erken dat jou lewe nie net
goedkoop woorde en leë klanke is nie, maar ‘n wonderlike
werklikheid van wat jy glo!
Wanneer Christus werklik as Here in ons hart regeer, sal ons
met ‘n goeie gewete kan getuig van die hoop wat in ons lewe.
Dan klop ons getuienis met die feite van vir Wié ons lewe!
Die krag van God se Woord, die krag van die hoop op Christus,
word sigbaar in die werklikheid van ons dade. Deur die eeue
moes buitestaanders erken dat die hoop van ware Christene
ontsettend baie werd is. Wees daarom altyd gereed om te
getuig van die hoop wat in jou lewe!
Volgens Petrus is die beste verdediging van die Christelike
geloof ‘n lewe, jóú lewe, waarin Christus waarlik regeer!