Christelike hoop op die ewige lewe is verseker nie dieselfde betekenis
as wat ons dikwels sê in ons algemene spreektaal nie. Ons sal dikwels
iets sê soos “ek hoop ek sal betyds wees”, of “ek hoop ek sal slaag in
die eksamen”, of “ek hoop maar vir die beste.” Die hoop op die ewige
lewe dui op die lewende hoop waarmee ons leef. Hierdie hoop verander
ons hele lewe. Ons leef dit as ‘n werklikheid! Kyk net wat sê Petrus:

1 Petrus 1:3-5: “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom
al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk
deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ‘n
lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike
erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. En
omdat julle glo word ook julle deur die krag van God veilig bewaar
vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd
geopenbaar te word. Verheug julle hieroor...”

God het ons die nuwe lewe geskenk! Dit is deur die opstanding van
Jesus Christus uit die dood! Nou het ons ‘n lewende hoop op ons
erfenis! Hierdie erfenis word vir ons in bewaring gehou deur God
self! Dit gló ons... ons hoop dit nie net nie! En omdat ons glo word
ook óns veilig deur die krag van God bewaar, vir ons erfenis, die
saligheid wat rééds gereed is! Daarom verheug ons ons hieroor!
Dit is baie duidelik nie maar net ‘n “ek hoop so” nie, maar die hoop
op sekerhede wat God doen! ‘n Oortuiging.
“Omdat julle glo”...sê die vers.

Bybelse hoop is allesbehalwe “miskien”, of “hoop vir die beste”.
In ons gewone spreektaal beteken hoop dat “ek nie seker is nie”.
Bybelse hoop is egter volle sekerheid op grond van wat God doen!
Die hele bogenoemde vers in Titus getuig van sekerheid.
Dit staan op die feit van “God wat sy woord hou...”, in Titus1:2.
God kan nie lieg nie!
Daarom sê Romeine 5:5 hierdie “hoop beskaam nie”,
en Romeine 8:25 “... as ons hoop op wat ons nie kan sien nie,
wag ons daarop met volharding”, want ons is seker daarvan!

God sê só! Bybelse hoop, Christelike hoop, is sekerheid wat veilig
en vas is omdat dit nie uit onsself kom nie, maar van die Heilige
Gees op die vaste grond van God se Woord. Kom ons leef met
hierdie ware lewende hoop, op grond van die vastigheid en
sekerheid wat God daardeur vir ons gee.
Dit waarop jy hoop getuig van die Een in Wie jy glo, en nie
van die situasie rondom jou nie!

Ernest