1 Johannes 4:8: “Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie,
want God is liefde.” God is liefde. Hierdie woord is geweldig ryk
aan inhoud. Waar sal ‘n mens begin om iets hieroor te sê? Waar sal
‘n mens ophou om oor die diepte hiervan te dink? Iemand het gesê
“só ‘n groot woord is nie veilig in mensehande nie.” En tog het God
dit “in ons hande en denke gegee”. Die Bybel sê dikwels dat God
ons liefhet en hoe omvangryk sy liefde is. Dit is makliker om dít te
verstaan as die uitspraak: God ís liefde! Ons het tog ‘n analogie in
ons lewe van: ons het ook lief... Maar die woorde “God is liefde”,
is haas onvoorstelbaar. Ons kan tog van niemand anders sê
“hy is liefde” of “sy is liefde” nie.
Daar was net Een op aarde van Wie ons kan sê “Hy is liefde”.
Dit was God in Christus. Jesus Christus. Hy het “liefgehad tot die
einde toe”, omdat Hy liefde is! Hy het nooit en nêrens opgehou
om lief te hê nie. Hy het ook nooit “minder” liefgehad nie.
Selfs aan die kruis bid Hy tot sy Vader vir sy moordenaars,
om hulle te vergewe, want hulle weet nie wat hulle doen nie.
As Hy ooit sou ophou liefhê, sou ons ophou om te bestaan!
Namate ons in Christus is, en Hy in ons, is ons in die liefde.
Dit sal sigbaar word deurdat ons liefhet. Dit is geen wonder
nie dat die Woord van God soveel nadruk daarop lê nie, dat
ons “in Christus is” of “uit God gebore is”.
Hier is ons by die Bron: “Elkeen wat liefhet is uit God gebore”.
Ons moet nooit hierdie waarheid omkeer nie.
Die Woord van God sê: Waar God is, is liefde! Ons kan egter
nie sonder meer sê: “waar liefde is, is God” nie. Dit kán
natuurlik waar wees. Die liefde mag die teken wees van God
se teenwoordigheid. Maar ons kan nie die liefde wat tussen
ons as mense bestaan, met God gelykstel asof liefde God is nie.
Ons idee van liefde kan nie vir ons sê hoe God is nie. God kom
in Jesus Christus vir ons sê wat liefde is, en hoe ons liefde moet lyk.
Daar is baie in ons lewe wat “liefde” genoem word, maar wat nie
uit God kom nie en ook nie in sy oog liefde is nie. Johannes gee nie
met bogenoemde teks ‘n abstrakte definisie van God nie. Die idee
van “liefde”, is waarlik nie volgens hom, God nie. Nee. Hy verkondig
die lewende God! Dié God wat só liefde is soos ons in Jesus Christus
leer ken het. In Jesus Christus leer ken ons wat dit beteken,
en dat God liefde is.
Ernest