Romeine 5:8: “Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin
dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.”
Johannes 15:12: “Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê
soos Ek julle liefhet.”
Die lewe is vol goedkoop liefde. Goedkoop liefde is liefde wat
ons gee, eers wanneer ons seker is dat dit op een of ander manier
“terugbetaal” sal word. Eers as dit ons eiebelang bevorder, is ons
bereid om “lief te hê”. Wanneer ons nie wederliefde ontvang nie...
wie hou dan onvoorwaardelik aan om waarlik lief te hê?
Ons verkies ‘n goedkoop liefde sonder om opoffering.
Die Here het op aarde tussen mense beweeg wat oortuig was dat
hulle die eise van onvoorwaardelike liefde slaag, met lof slaag.
Hulle het egter glad nie meer geweet wat God se opdrag van liefde
werklik beteken nie. Dit is nog net so in hierdie wêreld en tyd waarin
ons lewe. Ons verloor die waarheid en inhoud van wat werklike liefde
is, wie ons naaste is, en Wie God is. Net by Hom kan ons leer wat liefde
werklik is en wie ons naaste is. Om lief te hê soos God dit bedoel, is
geen vanselfsprekende saak nie. Dit is inderdaad die Gods-wonder
van ‘n bekeerde hart! ‘n Wedergebore hart!
Ons verswak in ons eie lewe God se liefde tot “hou van”, “simpatie hê
met”, of “geïnteresseerd wees in”. Ons vernou die begrip “naaste”, tot
“ons vriende”. Diegene wat soos ons dink en voel. Ons “rasgenote”,
en “ons kerk se mense”. Ons wil mense liefhê omdat hulle dit in óns
oë werd is. Omdat hulle ons liefde met wederliefde beantwoord.
Dit, is goedkoop liefde. Dit kos geen selfverloëning nie. Dit kom maar
uit ons eie menswees, ons sélf, met klem op sélf. Daarvoor is ‘n
wedergebore hart en ‘n bekeerde lewe nie nodig nie.
Ons het lief wie ons liefhet
Jesus kom demonstreer op aarde die duur liefde van God wat die
grootse offer gevra het. Die liefde vir onwaardiges, sondaars, ja,
liefde vir goddeloses. Die Here het ons nie lief “omdat” nie, maar
“ondanks”. Ons moet eers hierdie wonder met ons hele hart glo dat
God inderdaad, ten spyte van alles, óns liefhet! As ons hieroor begin
liefhê met die Here se liefde in en deur ons, sal ons vind dat God se
liefde ons hart só oorstroom na ons naaste, dat ons dit nie kan keer
nie!
As ons selfs nie ons vyande liefhet nie, leef ons nog nie uit die duur
liefde van God nie. God het ons as vyande liefgehad! Wanneer ons in
Christus wedergebore is, en met God se liefde liefhet, deur die Heilige
Gees in ons, vind ons die opdrag om selfs ons vyande lief te hê nie
meer vreemd of swaar nie.
Johannes 15:12: “Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos
Ek julle liefhet”. Wie uit God se duur liefde leef, sal self ook met hierdie
duur liefde, ánder liefhê. Dit, is onmoontlik as ons nie van Christus se
liefde leef nie! Maar as ons in gemeenskap met Hom leef, is sy opdragte
nie swaar en moeilik nie – 1 Johannes 5:3: “Die liefde vir God bestaan
dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam. Sy gebooie is ook nie moeilik
om te gehoorsaam nie, want enigeen wat ‘n kind van God is, kan die
sondige wêreld oorwin. En die oorwinning wat ons behaal het, is deur
ons geloof. Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat
Jesus die Seun van God is?” Ons kán duur liefhê! Met God se liefde!
Ernest