Oor die liefde sê 1 Korintiërs 13:13:
“Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.”
Hoe krom en skeef ons lewens kan wees, blyk uit die feit dat
ons dikwels stilbly as ons moet praat, en praat as ons moet stilbly.
Ons stel iets aan die kaak wanneer ons dit moet bedek, en ons
bedek dinge wat ons aan die kaak moet stel. Ons bedek ons eie
sonde en bespreek die sonde van ander.

God sê dit moet omgekeerd wees. daarom is dit ‘n wesentlike
deel van ons bekering dat ons veral ook hierin moet verander.
Dit is moeilik, want dit gaan lynreg in teen ons selfliefde en
selfhandhawing. Eers as ons in gemeenskap met God leef,
begin ons besef hoe ons verkeerd ontbloot of bedek.
Ons moet mekaar baie meer help.

Ons moet ook hierdie oordink: As twee mense met mekaar
in stryd was, blyk dit dikwels agterna dat die versoening tussen
hulle maar baie oppervlakkig was. Sodra hulle weer bots, word
die ou koeie uit die sloot gegrawe. Stel jou voor dat God elke
keer as ons sondig, weer al ons ou sonde wat Hy vergewe het,
voor ons kop gooi. Ons sou eenvoudig nie meer verder kon
bestaan nie.

Paulus weet wat liefde is en wat liefde vermag. Hy weet ook
hoe God liefhet. Goddelike liefde bedek alles wat vergewe is
en verby is. Dit word nooit weer opgehaal nie. God vergewe!
Hoekom bly ons sonde ophaal en ander se sonde bespreek?
Dit is liefdeloos. Dit is wreed. Ons kan en moet anders optree
as kinders van die Here. As God sy liefde in ons hart uitstort,
en ons leef daaruit, sal ons in staat wees om alles te bedek,
alles te hoop, alles te verdra en alles te glo.

Die liefde bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.
Elke onvermoë om dit met ons naaste uit te leef, beteken
liefdeloosheid by ons. Daarom moet ons nié kan sê “ek kan
dit nie vergewe en vergeet nie”.
Stel jou voor dat God dit vir jou moet sê. Daarom moet ons
vergewe en bedek. Ons moet ook toelaat dat God se liefde
in Christus ons liefdeloosheid bedek, dan sal ons ook leer
vergewe, bedek en vergeet.

Ernest