I Johannes 4:7-8: “Geliefdes, ons moet mekaar liefhê,
want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ‘n kind
van God en ken God. Wie nie liefhet nie, het geen kennis
van God nie, want God is liefde.”

Die vraag is: Wanneer ken God my, en wanneer ken ek Hom?
Die liefde is die antwoord. Die antwoord lê in die liefde. Dit is
‘n verrassende antwoord. Wie nie in liefde leef nie, staan buite
‘n verhouding met God. Daarom sê Romeine 13:10: “Die liefde
doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die
volle uitvoering van die wet.” Net so noodsaaklik as wat dit is
om telkens weer te hoor wat die ware geloof is, is dit om net
so dikwels te hoor wat die ware liefde is.

Hieroor is die Woord van God so duidelik dat daar nie
misverstand behoort te wees nie. Die volstrekte noodsaaklikheid
van die liefde blyk onder andere uit 1 Korintiërs 13 wat so goed
“oorbekend” is, dat ons dit eintlik net weer met baie aandag goed
moet gaan lees. Sonder hierdie liefde wat God gee en wat ons moet
gaan uitleef, is die mens niks. Daarom is die liefde onvervangbaar.

Die Here sê alles van menswees is nutteloos as dit liefdeloos is.
As jy nie liefhet nie, beteken nóg jou geloof, nóg jou ywer iets.
Ons kan ons doodwerk in die kerk, maar sonder liefde beteken
alles niks! Sonder liefde kan ons eenvoudig nie die wil van God
doen nie. Sonder liefde beteken die wet van God niks. Dit is dan
‘n leë wet. Dit is so gevaarlik dat die wetgeleerdes daarmee in die
hand “God in die vlees” gekruisig het.

Christus word in meer as een sin die vervulling van die wet genoem.
Die mens wat met die wet rondloop sonder om lief te hê,
is hoogmoedig en wreed. Die liefde van God moet in ons harte
uitgestort word, anders ken ons God nie, en ook nie die wet nie,
en ook nie onsself nie, en ook nie ons naaste nie.
“Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie...”

Ernest