Liefde en nogmaals liefde... lei tot vergifnis. God is liefde.
Die mistikus, Julian van Norwich, het gevra of mense regtig die
“bedoeling” van Jesus verstaan. Waarom het Jesus gekom, geleef
op aarde, gesterf, opgestaan, opgevaar, en sit Hy aan die regterhand
van God, en sal Hy weer kom...? Wat is die “bedoeling” van Jesus?
Wel, het sy gesê, dan moet ons dit deeglik verstaan:
Wie het dié bedoeling van Jesus vir ons gewys? Liefde. Wat het Hy
vir jou gewys? Liefde. Waarom het Hy dit vir jou gewys? Uit liefde.
“Love is our Lord’s meaning!”

Tydens ‘n ete aan die huis van ‘n Fariseër, Simon, wil dit voorkom
asof Jesus nie met die gebruiklike hartlikheid ontvang is nie. Daar is
geen kus van verwelkoming nie, en ook nie die gebruiklike was van
‘n gas se voete nie. Dalk wou Simon daarmee sê dat hy hom as
Fariseër nie met Jesus as die Meester identifiseer nie.
Maar Simon was tog nuuskierig...

‘n Vrou met ‘n twyfelagtige reputasie het by Jesus gaan staan en
haar trane het op sy voete gedrup. Waarskynlik trane van skande,
en tog ook verering van Jesus. Sy het sy voete met reukolie gesalf
en met haar hare afgedroog. Simon was hieroor onthuts. Dit maak
dat Jesus aan hom die gelykenis vertel van die twee skuldenaars.
Die een wat 500 geskuld het, en die ander net 50. Die bankier het
albei vrygeskeld van hulle skuld, en Simon moes aan Jesus toegee
dat die een wat meer skuld gehad het, meer liefde in dankbaarheid
vir die uitlener sou hê. Dit is hoe mense dink en optree...

Dankbaarheid is meestal ‘n groot motief vir liefde. Dankbaarheid is
ook meestal die resultaat van kwytskelding en vergifnis. Dankbaarheid
word ook deur die Here geseën. Die vrou wat hier by Jesus was, is ook
daar uit met seën van vergifnis en vrede. Dankbaarheid.
Simon het egter geen seën gekry nie. Hý was eintlik die een wat,
as gevolg van sy hoogmoed, in Jesus se oë die 500 geskuld het...
maar dat “die liefde die betekenis van die Here is”, het hy niks van
verstaan nie! Ook van die skuldvergewing het hy niks van verstaan nie.

Julian van Norwich het dit verstaan: Wie het die bedoeling van die Here
vir jou gewys? Liefde. Wat het Hy vir jou gewys met sy vergifnis? Liefde.
Waarom het Hy dit vir jou gewys? Uit liefde. Inderdaad:
“Love is our Lord’s meaning.” Julian van Norwich het dit verstaan, en ‘n
ander vrou uit die straat het dit verstaan, en óns moet dit ook verstaan!
“Love is our Lord’s meaning!”

Ernest