Die saaier se saad, in die gelykenis van Jesus, het nie net op
die pad en op ‘n klipbank geval nie, maar ook tussen onkruid.
“Nog ‘n ander deel het tussen die onkruid geval. Daar was ook
‘n deel wat in goeie grond geval het.” – Lukas 8:7-8. Die saad
wat in onkruid geval het, het opgekom, maar verstik. Onkruid
oorgroei gou-gou ‘n hele stuk grond, ook die goeie grond in
jou hart. Die menslike hart is so. Ons gemoed en verstand is
dikwels oorlaai met baie oorbodige goed, onkruid wat ons
prioriteite skeeftrek en verdring. Ons vergeet en laat na om
eerste die koninkryk van God te soek. Ons word nie stil en
luister na die Here se stem nie.

Ons daaglikse bekommernisse kry die oorhand en God se
stem, deur sy Woord, verdwyn. Ons het soveel onkruid in ons
lewe wat ons so besig hou. Toe Uys Krige by geleentheid gevra
is of hy weer ‘n digbundel gaan uitbring het hy gesê:
“Ja, ek moet, ek is besig daarmee, ek het die gedigte êrens,
maar ek het soveel ander deurmekaar papiere in my lewe,
ek weet nie hoe om by die regte papiere uit te kom nie.”
Ons lewe lyk dikwels ook so. Ons het soveel goed in ons lewe
dat ons nie uitkom by dit wat saak maak nie. Hierdie “goed” is
baie keer betekenislose goed wat ons weghou van dit wat
regtig saak maak. Dit is “onkruid”.

Die teks praat ook van die goeie grond. Die grond wat “luister”.
Die goeie grond is die hart wat tyd maak om te luister, die
gedagtes wat dit oordink, en die dade wat dit gaan doen. Mense
wat luister na die stem van God, luister ook na ander mense, en
God seën hulle, en ander mense deur hulle. Word elke dag
doelbewus in die gewoel net stil, en dink aan God. Dink aan jou
en God. Dink aan ander mense en God. Dink net daaroor, maak
nie saak watter gedagtes ook al nie. Selfs al is dit, soos by Job,
ontevredenheid. God sal daarmee vorentoe gaan in jou lewe.
En Hy sal jou saamneem met Hom. God laat verseker iets van
Hom deurkom na ons toe as ons op Hom inskakel.

Ernest