Lukas 12:20 – “Maar God het vir hom gesê: “Jou dwaas.
Vannag nog sal jou lewe van jou opgeëis word, en wie kry dan
alles wat jy bymekaargemaak het?” In hierdie gelykenis van Jesus
oor die ryk dwaas sien ons hoe relatief “sukses” kan wees. Hier in
Lukas 12 het ‘n man by Jesus oor sy pa se boedel kom kla. Hy vra
Jesus om sy broer te beveel om sy erfenis met hom te deel.
Vir een of ander rede lyk dit of hy nie iets ge-erf het nie. Jesus
waarsku skerp in vers 15 voor hy die gelykenis van die ryk dwaas
vertel: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid,
want ‘n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy
besittings nie.”
Die biljoenêr en weldoener van die laat negentiende eeu, Andrew
Carnegie, het voor sy dood beweer: “Dit is geen sonde om jou ryk
te werk nie, maar dit is obseen om dit na jou dood te probeer hou.”
Vandag nog bestaan die Carnegie stigtings wat baie mense help.
Jesus waarsku in bogenoemde teks dat jou besittings, veral jou
gierigheid daarmee, vir jou ‘n strik kan word. Soos met die ryk
dwaas...
Die man het groot oeste gehad. Hy het dit gestoor en gedink hy sal
self lank daarmee leef. Toe sterf hy. En sy goed? Ja, wat het van sý
goed geword? Daar is mense wat ander baie help met hulle rykdom.
Daar is ander wat soos dwase net vir hulleself leef. Rykdom is geen
diskwalifikasie nie. Armoede is ook geen aanbeveling nie. Daar is
ook arm mense wat ander armes se brood sal steel. Maar die een
wat net aan sy eie behoeftes dink, is dwaas, sê Jesus.
Om suksesvol te wees is dikwels God se beloning vir harde werk.
Maar om suksesvol en selfsugtig te wees, is dikwels God se oordeel.
Dit is God se wêreld waarin ons leef. Dit is God se grond waarop die
ryk dwaas geboer het. Dit is God se guns wat die reën laat val het op
die oes. Dit is God se asem wat in hom geblaas is dat hy kon leef en
boer. Ons is in alles van God afhanklik. As ons dit nie besef en daaruit
leef nie, is ons dwaas.
Daar is ‘n groter rykdom as die van oeste. Dit is die rykdom van
die gees van dankbaarheid en opregtheid voor die Here en mense.
Dink maar aan wat Paulus sê oor die rykdom in ons: “Christus is in julle,
Hy is julle hoop op heerlikheid.” – Kol. 1:27. Daar is die storie van die
man wat die engel by sy dood gevra het of hy iets kan saamvat.
Die engel sê toe: “As dit moet: Alles wat jy weggegee het, kan jy saamvat.”
Daar is ‘n les in. God gee alles wat ons het! Hy is die groot Gewer!...
van alles wat ons het. Alles! Niks is eintlik “ons” sin nie... Dit is God sin.
Ernest