God doen groot dinge deur klein mensies!
Dawid was ‘n gewone tienerseun wat skape opgepas het.
Tog het God gekies om hom ‘n uitmuntende koning te maak.
Moses het ‘n spraakgebrek gehad.
Maar hierdie hakkelaar word gekies om die volk na die beloofde land te lei.
Nehemia gaan teen weerstand in om die mure van Jerusalem te herbou.
Nehemia 2:20 sê:
“Die God van die hemel sal ons help om suksesvol te wees.
Ons is sy dienaars en ons sal die bouwerk doen.”
Het jy al nagedink oor groot dinge wat jou Vader deur jou wil doen.
Moenie dink God kan jou nie gebruik nie.
Jy is mos maar ‘n doodgewone mens….
Sukkel dikwels om die regte woorde te kry.
Nie juis bekend vir jou dapperheid nie.
Moenie glo nie!
God wil juis gewone mense gebruik wat bewus is van hulle menslikheid,
tekortkominge en swakhede.
Juis dan is hulle afhanklik van Hom en kan sy krag deur hulle werk.
Sy grootheid word dan sigbaar in hulle gewone mens wees.
Wanneer Paulus oor homself praat,
dan erken hy sy tekortkominge.
Maar hy het ook visie om verby dit te kyk,
want hy weet wat hy deur Christus kan doen!
Juis daarom kon hy so baie doen!
Wees net bereid dat die Here jou gebruik.
Jy is ‘n puik instrument in sy hand!
God se genade werk volledig deur jou.
Jou Skepper weet presies wat jy kan doen en wat nie.
Hy sal deur jou werk.
Jy hoef nie oor te loop van selfvertroue nie.
Wees net beskikbaar en afhanklik.
Wees vol van Godsvertroue!
Dan word die klein wat jy doen…..groot!
Ernest