“Jesus het gesê: “Hoe is die koninkryk van God? Waarmee kan Ek
dit vergelyk? Dit is soos ‘n mosterdsaadjie wat iemand gevat het
en in sy tuin geplant het. Dit het gegroei en ‘n boom geword, en
die voëls het in sy takke kom nes maak.” – Lukas 13:18-19.

Soms lyk dit of God so totaal onsigbaar werk. Asof daar niks
aangaan nie... Waar is die groot tekens van die koninkryk wat ons
so graag wil sien? Hoekom openbaar God nie sy mag, sy almag, in
geen onduidelike terme aan alle nasies en mense nie?
Hoekom werk God met ‘n getuienis hier, en ‘n getuienis daar.
‘n Goeie daad hier, en ‘n goeie daad daar? ’n Klein gemeente en
kerkie hier, en daar? Hoekom nie magtige dade wat eenvoudig
wys Wie Hy is en dat Hy heers nie!?

God werk nie so nie. God werk met dinge wat klein begin, soos
saad, mosterdsaad wat van die kleinste saad is. Daarom begin
God ook die openbaring van Jesus in klein dorpies tussen “klein
mensies”. Klein gemeenskappe van vissers en boere. En hierdie
beweging kring vandag nog uit en spoel oor die hele aarde!
Ons kyk maklik na die ontwikkeling van God se koninkryk en
wonder... hoekom so stadig? Ons voel asof daar so min saad
is wat so stadig opkom...

Toe Jesus hierdie gelykenis vertel het was die dissipels nog
onbewus daarvan dat hulle op daardie tydstip reeds deel was
van God se saaiwerk! Elkeen van hulle sou saad wees. Saad van
die koninkryk van God wat nie gekeer kan word nie! Wat nooit
gekeer sal kan word nie. Daar kom ‘n tyd in ons lewe dat jy voel
jy wil tou opgooi. Dit voel asof dit waaroor jy so opgewonde is,
misluk. Jy sien nie sigbare groei op jou werk nie, jou bydrae nie,
en jou getuienis nie.

Ons moet onthou dat letterlik alles wat ons doen en sê, deel is
van God se koninkryk. Dit groei en word ongemerk ‘n groot boom,
soos in die gelykenis. Ons moet bly werk en glo. God sal laat groei!

Ernest