Gelykenisse is kort stories met baie nuanses van betekenis,
maar een groot punt of waarheid om te beklemtoon. Dit is
nogal interessant: baie van Jesus se gelykenisse is so realisties
dat dit flikker van ‘n Goddelike humor rondom ons as mense se
daaglikse lewe. Humor wat net-net wil deurbreek tussen die erns
van die boodskap deur. Daarom kan ons so goed met gelykenisse
identifiseer in ons eie lewe. Die humor is soms regtig herkenbaar,
soos die man wat die huis gebou het en nie daarvoor kon betaal nie.
Ander kere is die stemming van die gelykenisse hartseer. Soms
wil-wil jy glimlag, en ander kere wil jy jou ook effe vervies,
“saam met” Jesus, oor ons eie dwaasheid.

Die gelykenis van die groot maaltyd is so ‘n gelykenis, in Lukas 14.
Vers 17 sê: “Toe die maaltyd gereed was, stuur hy sy slaaf om vir
die genooides te sê: “Kom, die maaltyd staan klaar”. Jy wil lag vir
al die verskonings van die elite en die BBP’s wat genooi is. Hulle
voer alledaagse sake-transaksies en onsinnige redes aan om nie
die uitnodiging aan te neem nie. Die een sê selfs hy is pas getroud
en wil tyd saam met sy vrou deurbring.

Jy kan jou die gasheer se irritasie voorstel. Soveel onsinnige redes.
Uiteindelik stuur hy sy dienaar om die armes, kreupeles, blindes
en verlamdes te gaan nooi. Hulle het gekom. En toe was daar nog
plek. Die gasheer het ook aangedring dat nog meer van hulle moet
kom. Hulle was seker onseker oor hierdie uitnodiging.
Die oorspronklike genooides, die sosiale voorstes en vlinders,
sou nie weer genooi word nie.

Dit is ‘n kort verhaal oor God en sy volk. Maar dit is ook meer:
Dit is ‘n geskiedenis van elkeen van ons. Ons is God se genooides.
Ons reageer nie altyd nie. Ons het allerhande onsinnige verskonings.
Maar ons weet tog ons het Hom nodig! Die Here nooi ons hier en
nou na sy lewensfees! Hy nooi almal, van die elite tot die straatmense.
Wie woon die maaltyd by, en wie nie? Dit laat jou dink... want eintlik
nooi Hy ons na die maaltyd by die voleinding van die oorwinning van
Jesus Christus, na die ewige teenwoordigheid by God.
Neem die uitnodiging nou aan! En sing saam met die lied:
“Ons is genooide gaste, en daarom is ons hier!”

Ernest