Die gelykenis van die verlore skaap is treffend,
in die sin dat selfs een skaap wat wegraak, te veel is!

Lees Lukas 15:1-7! Sê nou maar een van ons het honderd
skape en een raak weg, wat doen ons dan? – Vers 4.
Wanneer ons uit die oogpunt van ekonomie kyk, sal ons
toegee dat ‘n verlies van een persent, soos in bogenoemde
geval, nie baie is nie. Dit is beperkte verlies. Ons kan daarmee
saamleef en dit weer verhaal. ‘n Verlies van vyf persent laat
gevaarligte flikker. Maar in hierdie gelykenis is slegs een skaap
uit ‘n honderd weg! Nie vyf of tien nie. En tog gaan die herder
uit sy pad om sy een verlore skaap te gaan soek.

God se ekonomie werk anders as ons ekonomie. Een skaap is
vir Hom een mens, een siel, een lewe! Geskep na sy beeld.
Vir wie Hy oneindig liefhet! Een persent verlies is te veel!
Elkeen van sy kudde, elkeen van ons, is vir Hom te kosbaar!
Wat sal ‘n goeie ouer nie doen om sy kind wat wegraak terug
te kry nie? Jy wil nie eers daaraan dink nie. God nog meer!
Hy het die duurste prys vir jou betaal! Sy enigste Seun,
Jesus Christus! God het hemel en aarde beweeg om jou behou!
God beskou geen mens as van te min waarde nie, nie eers
hulle wat deur die Fariseërs as “sondaars” afgeskryf is nie!

Daar is baie maniere om “verlore” te raak. Jy kan jou intieme
verhouding met God verloor omdat jy Hom uit die oog en uit
jou hart verloor. Jy kan jou verlange na God verloor. Jy kan jou
lewenskoers verloor en begin twyfel aan die sin van jou bestaan
en die bestaan van God. Jy kan begin dink dat God nie meer vir
jou omgee nie. Jy kan ook dink jy het Hom gefaal en Hy skryf
jou nou af. Jy kan ook afdwaal van God af en dit nie eers self
besef nie...

Hierdie gelykenis sê: God laat dit nie daar nie! Nooit nie!
Hy kom altyd om jou te kom haal en jou terug te help.
Dit is God se aard. Dat nie een verlore moet gaan nie,
is God se “ekonomie”. Dit is sy liefde, vir jou persoonlik!

Ernest