Die Twaalf Artikels, Apostolicum, of Credo soos dit ook genoem word,
is die bekendste Christelike geloofsbelydenis van Christene, wêreldwyd.
Dit dateer in sy eerste en oorspronklike vorm waarskynlik alreeds uit
120 n.C. Dit het die toets van die eeue deurstaan en vir hierdie belydenis
en geloof het mense deur die eeue gesterf. Die waarde van hierdie
Apostoliese Geloofsbelydenis lê daarin dat dit vir ons sê wat die Woord
van God sê! Dit help ons om te glo, en te bely, en hierdie geloof te leef!
Vir die volgende dae gee ons aandag aan die eerste Belydenis:
“Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die
hemel en die aarde...”

Martin Luther het geskryf: “Ons is bedelaars. Dit is waar.” Daarmee het
hy eintlik verwys na ons voortdurende afhanklikheid van die Woord van
God vir ons geloof en lewe. In werklikheid is die totale lewenstyl van die
gelowige die van ‘n bedelaar, en nie die van ‘n geloofsheld nie. Daar is
nie iets soos geloofshelde nie. Die Bybel praat nie van “geloofshelde” nie.
Dit staan nie in die grondteks nie. Ons is geloofsbedelaars voor God.
Geloof is die leë hand wat ek na God uithou in geloof dat Hy dit sal neem,
en vul met sy seën. God wil voortdurend gee! Met die hand wat ons
uitsteek na God, sê ons: “Ek glo... help my in my ongeloof”. Markus 9:24.

Geloof as sodanig het geen krag nie. ‘n Mens kan tog nooit in jou eie
geloof glo nie. Geloof is gerig op God! Geloof is afhanklik van God.
Geloof gaan op in God. Die wonderlike is: Wanneer ons bewustelik
afhanklik voor God kom staan, gaan ons nooit met leë hande weg nie.
Nooit! Jy kom kry moontlik nie wat jý dink jy nodig het nie, maar jy kry
wat God weet jy nodig het. Hy vul jou leë hande met sy goedheid.
Hy stort sy genade in oorvloed oor jou uit. Telkens staan ons verbaas:
Ek is ‘n Koningskind! Skatryk! In Hom het ek alles tot in ewigheid!
Ons moet net ophou om self te probeer. Dit is wat God van ons vra.
Hou op self probeer en leef doelbewus afhanklik van Hom, in geloof.
Ja, selfs dit gee Hy, jou geloof!

Baie mense, goeie mense met opregte bedoeling, probeer baie hard
om “opreg” te glo. Hulle werk so hard aan die vermoë om opreg te
moet glo uit hulleself, dat hulle in die proses “onafhanklik” van God
raak... Hulle is nie meer bedelaars voor God nie. Soos Martin Luther sê:
Ons moet besef ons is totaal afhanklik van God. Totale bedelaars. Dit is
waar. Regtig. Ons staan met leë hande voor God. Ons geloof maak nie
ons hande “vol” voordat ons voor God gaan staan nie. Niemand kan
ooit “goed genoeg” glo om God te beïndruk nie. Ook ons geloof is
genade wat ons soos bedelaars ontvang!

Die wonderlike is dat God geen kwalifikasies vra nie! Niemand is te
“sleg” om te glo nie. Dit is oneindig belangriker in Wié jy glo, as hoe
“sterk” jy dink jóú geloof is. Gaan kniel totaal afhanklik voor jou Vader.
“Ek glo in God die Vader...” Waaroor bekommer jy jou? Selfs ten opsigte
van jou geloof moet jy weet: Jy het die hemelse Vader wat sorg!
Ook vir jou geloof!... sorg jou liefdevolle Vader!

Ernest