Dit is wonderlik om met ons Geloofsbelydenis te kan sê “ek” glo,
en ook om saam te kan bely en te weet “ons” glo. “Ek glo in God die
Vader, die Almagtige...” Dit gaan hier oor God, en nie oor mý nie.
Dat dit “ek” is wat glo, beteken nie dit draai nou om my nie.
Ongelukkig het ‘n teologie, ‘n geloof, ontwikkel wat die “ek”
beklemtoon. Geloof wat byna soos medikasie werk. As ek dié pil
van geloof sluk, sal swaarkry uit my lewe verdwyn. Soos ‘n pynpil
hoofpyn laat verdwyn. Hierdie geloof of teologie word die voorspoed
teologie genoem. “Prosperity Gospel”.

Wat is die probleem hiermee? Hierdie siening of “geloof” glo dat as
ék goed genoeg glo, sál dit goed gaan met my. Ek moet net goed en
rég glo. Daarom behoort jou regte geloof en toewyding jou siekte te
laat verdwyn en jou bankbalans te laat styg. Dit is eenvoudig net nie
waar nie. Natuurlik kán die Here God dit vir ons doen. En natuurlik
gee Hy vir ons die beste in die lewe. Ons idee daarvan stem nie altyd
met God saam oor wat die beste vir óns is nie...

Ons is steeds gered in hoop, hoop wat bly lewe. Die Christelike hoop
bly steeds lewe saam met geloof wat lewe. Romeine 8:24: “Wat ‘n
mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds
sien?” Al word die “regte” geloof dan ook uit genade aan ons geskenk,
sal ons in hierdie lewe steeds geloofstryd ervaar. Geloof-spanning. En
geloof-inspanning. Kyk maar na die dissipels se lewe na Jesus se
hemelvaart, en mense soos Paulus wat baie moes ly, juis vir sy geloof.
Geloof bring nie noodwendig wêreldse gesondheid en voorspoed nie.

Geloof kan ook soms verkeerd wees. Selfs dodelik wees. Soos die man
wat in geloof in die nag pille gedrink het uit die verkeerde bottel. Hy het
gedink, geglo, dit is die regte bottel. Hy het gesterf. Geloof moet nie op
die verkeerde ding gerig wees nie. Dit gaan nie oor wat dit vir jou kan
meebring nie, maar oor God, God wat jy eer deur jou geloof in Hom,
en jou lewe vir Hom!

Weet in Wie jy glo! Daarom is geloof sonder kennis net so dood en dodelik
as geloof sonder werke. Ons bely God is die Skepper van hemel en aarde.
Maar ons kan hom nie uit die natuur alleen as bron leer ken nie. Ontmoet
God in sy Woord. Leer ken God in sy Woord. Selfs mét die Woord van God
kan ons nie alles van God weet nie. Vertrou egter dat God jou lewe gaan
verander deur sy Woord en die geloof wat Hy jou gee deur sy Gees.

Ernest