Ons kan baie kennis hê oor waarhede in die Woord van God.
Ons kan die Woord van God baie goed “ken”, en tóg vra geloof
baie meer as net kennis van God en sy Woord.
Geloof kan bestaan uit kennis, sonder om noodwendig vertroue
ook in te sluit. Voorbeeld: “Glo jy hierdie wêreldberoemde
sweefstokarties sal met sy balanseer-stok oor die waterval kan loop?
Hy het dit tog al baie gedoen, selfs met mense op sy rug. Glo jy hy
kan nou weer?”, het die aankondiger gevra. “Ja! verseker”, het die
man wat op die wal staan uitgeroep. “Sal jy jou geld daarop verwed?”,
het die aankondiger gevra. “Ja, verseker! Ek glo hy sal dit doen!”
“Goed, klim jý nou op sy rug om te wys dat jy dit regtig glo”, het die
aankondiger gesê. “Nooit!”, het die man uitgeroep en weggeloop...
Geloof met kennis, wat nie vertroue insluit nie.

Jy kan “ja” sê oor baie dinge wat jy “glo”, en jou tog nooit in die
praktyk op Christus verlaat en onvoorwaardelik glo nie. Ons kan baie
oor geloof praat, en dit nie met God in Christus wáág nie. Jy laat nie
dat God jou dra nie. Jy wil jóú voete op vaste grond voel. Geloof vra
totale oorgawe van jou, wat niemand anders vir jou kan doen nie.
Jy moet in God se arms inspring en glo dat Hy jou vang en dra!
Jy moet jou op die krag en verlossingswerk van Christus werp!
Jy moet in volkome vertroue Hom toelaat om jou oor die waterval
te dra. Geloof wáág! Jy gee jou hele lewe prys en plaas dit op Hom
alleen wanneer jy die dag soos Petrus bely en glo: “U is die Christus,
die Seun van die lewende God.” – Matteus 16:16.

Met die woorde: “Ek glo in God...” kom ons by die hart van ons geloof.
Ons kan Hom net prys en aanbid. Ons kan Hom nooit vasvang in begrip
nie. God het ons geskep en herskep in Christus, om ter wille van sy eer
te leef en Hom vir ewig te prys. Dit is die diepste sin van ons bestaan.
Om vir ewig by God te wees ter wille van Hom! Alles gaan oor Hom.
Alles gaan oor Hom! Selfs nou, op aarde, in die moeilikste tye,
kan ons weet: Ons kan bly opkyk na Hom. Vir dié wat eerbied het vir
sy Naam, sal die son van redding skyn met genesing in sy strale –
Maleagi 4:2. Daarom!...
kyk op na God en spring in sy arms in! Dit is geloof!

Ernest