In ons strewe om presies reg op te tree kan ons dikwels ongenaakbaar wees.
Ons glo daar is net een manier en dit is die regte manier. En dit is goed en reg.
Maar in die uitvoering daarvan kan ek meer skade doen as goed.

Ek kan koud en hard en kil en ongenaakbaar wees.
So word ek die potttebakker en ander mense die klei.
Ek is gedurig besig om ander mense te verander en reg te ruk,
volgens my eie oordeel.
Dinge moet gebeur soos ek dit wil hê.
Ek moet tevrede gehou word.

Dalk dink jy nou: dit is nie op my van toepassing nie.
Dink mooi en lees verder….

Sagmoedigheid is die teendeel.
Ek kan nog steeds reg optree, sonder om ongenaakbaar te wees.
Enige iemand kan hard en onvriendelik wees.
Maar dit verg die werk van die Gees van God in my,
om in my regwees ook sagmoedig te wees, beleefd, vergewensgesind.

Ons het dikwels geen genade met ander nie,
omdat ons nie God se genade vir onsself toegeëien het nie.
Ek kan net dit uitdeel wat jy reeds het om uit te deel.
Ons is dikwels so hard op onsself en kan nie onsself vergewe nie.
Dan is ons ook hard op ander.

Romaine 12:21 sê:
“Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie,
maar oorwin die kwaad deur die goeie.”

Natuurlik moet ons by tye mekaar konfronteer.
Maar hoe doen ek dit?
Wag ek vir die regte geleentheid?
Dink ek mooi wat ons moet sê?
Stel ek die persoon bloot, en maak seer voor ander mense?
Bid ek daaroor om self reg op te tree,
en ook die ander se hart voor te berei?
Of storm ek net in en sê my sê?

In Matteus 11:29 sê Jesus:
“Kom neem My juk op julle en leer van My,
want Ek is sagmoedig en nederig van hart,
julle sal rus kry vir julle gemoed.
My juk is sag en my las is lig.”

Hoe lyk die juk wat ek op ander plaas?

Ernest