“Ek glo in God die Vader, die Almagtige...” God is almagtig!
Dit is heeltemal te groot vir ons om die omvang van sy
grootheid te bereken. Ons kan nie. God is anders as ons.
Sy “eienskappe” is anders. God is alomteenwoordig. Geen
woonplek kan Hom bevat nie. Hy is die Skepper van die hemel
en die aarde. Van alles wat uit niks geskep is! Tot is die fynste
detail. Hy is by dit alles teenwoordig en tog ook grensloos
anderkant dit. Anderkant die eindpunt van die heelal. Hy is
groter as ons denke en bo ons gedagtes. God val in geen
“klas” nie. Hy is onvergelyklik. Hy is eenvoudig net... gróót!
En tog is hierdie groot en almagtige God by óns! Hy is vir ons!
En as God vir ons is, wie kan dan teen ons wees? – Romeine 8:31.
God gee intens om vir mense. Ook vir geringes en onbelangrikes.
Die wat eensaam en verstote is. God sien nie met groter sorg om
na sekeres nie. Hy dink aan ons almal – Psalm 8:5. God is nie só
anders, of groot of besig dat Hy nie aan ons dink en nie vir ons
omgee nie. Die grote, gans andere God dink intens aan jou,
en het jou lief! By name!
God is die lewende God wat van ons sy woonplek gemaak het!
Ons is die tempel van die lewende God – 2 Korintiërs 6:16.
Die lewende God is so naby ons dat Hy binne in ons is. Waarom
sal ons ons verknies oor die sorge van die lewe en die aansprake
van die dood? Die Een wat in ons leef is sterker as die dood!
Hy is ook sterker as neerslagtigheid, en die wanhoop in ons en
om ons. Ons leef so dikwels asof God dood is... God is groot!
God leef! God woon in jou! Jy sal ook vir ewig lewe.
Leef jy ook nou reeds daaruit en leef voluit in Hom en vir Hom!
Ernest