God is groot! God is nie ‘n mens nie. Hy is in die hemel,
en oral in die totale skepping. Hy is ‘n verterende vuur,
sê Hebreërs 12:29. Dit wil iets van sy grootheid beskryf.
En tog... tog is ons familie. God is ons Vader!
Ek glo in God, die Almagtige..., en ook in Hom as Vader!
Dit is die wonder wat Jesus ons kom leer het! Ons mag
God as Vader aanspreek! Matteus 6:9: “Ons Vader wat
in die hemel is...” Ons kan direk so met Hom praat.

Die rede: Want God is na sy wese “Vader”! Dit is wat die
geloofsbelydenis sê: “Ek glo in God die Vader...” Dit is
opmerklik dat daar in die geloofsbelydenis tussen die
woorde “God” en “die Vader” geen komma is nie.
Dit vloei as ‘n eenheid aaneen. Dit wil benadruk:
God ís Vader!

Dit herinner ook aan wat Paulus gesê het, dat ons deur
die Gees “Abba”, dit wil sê “Vader” mag roep – Rom 8:15.
Dit is Aramees vir “Pappa”.
God is Vader in die oortreffende trap! Hy is die bron van
alle goedheid. Soveel te meer as die beste aardse vaders,
wil Hy vir ons die beste bedoel en gee – Matteus 6:30.
Ons kan God vertrou en berus in sy beskikking oor ons lewe,
hier en tot in ewigheid. Jesus het eenmaal gesê:
“Julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit
van Hom vra” – Matteus 6:8. Glo dit!

Leef uit hierdie belydenis. Hy weet alles van jou lewe af en
Hy gee intens om as jou Vader in die hemel en op die aarde.
Ons is sy kinders! Hy weet presies wie ons is as sý familie.
Hy ken ons behoeftes, nood, lyding, alles. Hy verstaan ons
en het ons lief. Weet dus: Die Vader wéét! Hy is jóú Vader!

Ernest