Ons Vader vorm ons om ontslae te raak van ons rowwe kante
wat maklik na weerskante sny en seermaak. Ons is sondige mense,
al is ons verloste sondaars. Hebreërs 12:7-9 is ‘n baie belangrike
woord om ons hiermee te help, dat óns ons nie hierteen verset nie:
“Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders.
Is daar miskien ‘n kind wat nie deur sy vader getug word nie? As julle
nie getug word soos al die ander nie, dan is julle nie werklik sy kinders
nie. Verder, ons het ons aardse vaders gehad wat ons getug het, en
ons het vir hulle eerbied gehad. Sal ons ons nie nog des te meer aan
die hemelse Vader onderwerp en lewe nie?” Let op die woorde
“... want God behandel julle as sy kinders...”

Ons Vader het ‘n plan met elkeen van ons se lewe. Hy wil uiteindelik
die beeld van sy eie Seun, Jesus Christus, in elkeen van ons laat vorm
aanneem. Laat ons Hom as Vader, wat sy liefde vir ons in Christus
bewys het, hiermee vertrou! Ons moenie die troue sorg van ons Vader
hierin vergeet nie. Ons vergeet so maklik hoe Hy ons getrou gedra het
in die verlede: sy seëninge, die krag wat Hy ons in krisis gegee het, die
belewenis van sy nabyheid, die verlossing! Ons moenie vergeet wat
God ons Vader in Christus gedoen en aan ons gegee het nie.
Daarom moet ons nie wanhoop in swaarkry of snoeityd nie.

Wie regeer oor die verlede, die hede, en die toekoms? Net Een: God!
Hy is ons Vader! God is die middelpunt van die heelal, wat Hy geskep het!
Hy regeer. Hy is die Almagtige. God, wat alles weet, en alles van ons weet,
vorm ons tot sy eer. Ons word hierdeur meer en meer aan die beeld van
Jesus Christus gelyk. Wat ‘n troos, om ook in swaarkry en vorm-tyd,
kind van God te wees!

Ernest