Ons bely: “Ek glo in God die Vader, die Almagtige,
die Skepper van die hemel en die aarde...” Skepper... God.
Daar is minstens twee maniere waarop ons die skepping,
en dus die gawes van God, kan beskou.
Aan die een kant is daar die materialisme. Hierin gaan dit
heeltyd oor meer en mooier, en nie oor die dankbare gebruik
van God se gawes nie. Dit gaan om ‘n verbruikersmentaliteit.
Dit is die blote versadiging van egosentriese behoeftes.
Die beste en mooiste woonbuurt, huis, skole, motors, en die
lys kan net langer en langer. Want letterlik alles moet van die
beste wees. Ten koste van baie ander waardes.
Die Here het nie sonder meer ‘n probleem met hierdie “dinge” nie.
Gelowiges het egter ‘n ander houding teenoor besittings. Waar die
wêreld in sy materialisme deurgaans uitroep: “Gee my méér!”, bid
die gelowige: “Gee ons vandag ons daaglikse brood.” – Matteus 6:11.
Belangrik: Gelowiges se houding tot die materiële is ‘n uitvloeisel van
hul verhouding tot die Gewer van hierdie dinge. Waar die wêreld eis:
“Gee!” – en gryp, moet gelowiges vra en pleit – en dank.
Dit is bevrydend om te besef “ons” besittings behoort nie aan ons nie,
maar aan God. Regtig bevrydend. Daarom moet ons dit deurlopend
met dank uit sy hand ontvang. Alles wat ek het, en al die verhoudings
met mense waarin ek is, behoort aan God! Dank Hom daarvoor, en lééf
met dankbaarheid in jou hart! Geniet alles wat die skepping jou bied,
tot eer van God. Geniet dit! God gee dit met die bedoeling om dit te
geniet! God het die aarde gemaak en gesê: Dit is goed – Genesis 1:4.
Hy wil hê ons moet op hierdie aarde woon en dit geniet. Die lewe!...
en die aarde! Dit is ook wat Prediker 5:17 sê: “... dit is aangenaam om
te eet en te drink en die lewe te geniet...” Lees gerus Prediker 5:17-19,
en lééf! Die gedeelte sluit af met hierdie woorde: “So ‘n mens dink
skaars na oor wat in sy lewe gebeur, so vol is hy van die blydskap
wat God gee.” Blydskap wat God gee!
God gee die lewe. God gee die skepping. God gee ons die lewe in die
skepping. En die sleutelwoorde in Prediker 5:17-19 wat ‘n gelowige se
lewenstyl moet kenmerk is: “... goed... aangenaam... geniet... vreugde...
blydskap!” Dit is verseker moontlik, omdat God die lewe gee, en die
lewensin gee! Ja, want “wie kan eet, wie kan geniet as Hy dit nie
moontlik maak nie?” – Prediker 2:25.
Ons moet as gelowiges met ons voete op die aarde staan,
God se aarde... en die skepping van God geniet. Lééf!.. daarin.
Ernest