Met die tweede artikel van ons geloofsbelydenis bely ons:
Ek glo “in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here...”
Waarom verder soek? Daar is net één Here! Daar is nie ander
paaie na God toe nie. Daar is net een weg. Jesus Christus is die
enigste weg na God toe. Hy het God op ‘n besondere wyse aan
ons kom openbaar.

Klink hierdie belydenis vir jou te eksklusief? Veral in ‘n wêreld
waar byna alles nou inklusief raak? Kan Christene werklik daarop
aanspraak maak dat Jesus Christus die enigste weg na God is?
Gaan alle ander godsdienste dan maar verlore? Daar is dan soveel
goeie mense onder ander gelowe...? Mense wat ook ons as Christene
dikwels beskaamd laat staan.

Die belangrike is dat ons nie ander mense moet oordeel nie. Dit sal
God in sy alwysheid doen. Ons moet egter ook nie slimmer as God
probeer wees hieroor nie. Volgens sý Woord glo ons daar is net een
manier om by God uit te kom. Dit is deur geloof in Jesus Christus.
Jesus het self gesê: “Niemand kom na die Vader toe behalwe deur
My nie.” – Johannes 14:6.

Ons kan net bely: “Here, ek was al op soveel dwaalweë.
Dankie dat U my gesoek en gevind het toe ek nog verlore was...”
Daar is nou die wonderlikste eenheid tussen Jesus en óns wat glo.
Jy verloor nie jou identiteit as jy “in” Jesus Christus glo nie. Hy maak
nie van jou iemand anders nie. Dit is immers jý wat glo.
Maar aan die ander kant verander Hy jou om ‘n totaal nuwe jý te wees!
Paulus stel dit so: “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens.
Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit alles is die werk van God.”
– 2 Kor. 5:17.
Dit is jý, maar ‘n nuwe jý, wat glo, en deur Hom nuut gemaak is.

Ernest