Die Jesus-Naam wat verwys na Jesus Christus, is wesentlik anders
as enige ander naam. ‘n Engel het dit self aan Josef en Maria bekend
gemaak. Meer nog, dit is God se eie Naam. Wie “Jesus” sê, sê:
“God – by ons!” Daarom is daar verlossings-krag in hierdie Naam.
Dit is Hý wat sy volk van hulle sonde sou verlos – Matteus 1:21.
Handelinge 4:12 beklemtoon dit ook: “Daar is geen ander naam op die
aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word
nie.” Wanneer ons dus die Naam “Jesus” sê, spreek ons uit wat in die hart
van God leef! Dit is naamlik dat dit sy wil is dat mense gered moet word!
Die Naam “Jesus” beteken letterlik: “God is redding”.
Dink wat jy sê wanneer jy die Naam Jesus op jou lippe neem...
dink wat jy doen, en gló!

Wanneer ‘n reddingsboei na ‘n drenkeling uitgegooi word, sal hy nié eers
‘n klomp vrae daaroor vra voordat hy die reddingsboei gryp nie! Wanneer
jy besef jy is besig om te verdrink, om tot niet te gaan, sal jy eenvoudig die
boei gryp! Jesus is God se Reddingsboei wat na jou “uitgegooi” is.
Hy sal jou beslis red van ondergang. Al wat jy moet doen is om met volle
vertroue en jou hele lewe Hom vas te gryp! God wil nie hê dat iemand
verlore moet gaan nie, maar dat almal hulle moet bekeer. – 2 Pet. 3:9.
Dit is om die Reddingsboei, Jesus, vas te gryp en op Hom alleen te vertrou
met jou hele lewe. Die wonder is, wanneer jy dit doen, dat jy ontdek dat
dit juis Hy was wat jou die boei laat gryp het!

Verslaggewers het met Karl Barth, die groot teoloog, ‘n onderhoud gevoer.
Een verslaggewer het gevra: “Wat is die grootste waarheid wat nog ooit in
u gedagtes opgekom het?” Almal het ‘n diepsinnige en filosofiese antwoord
verwag. Toe antwoord hy:
“Jesus loves me, this I know, for the Bible tells me so”. Die eenvoudige liedjie
wat hy as kind by sy moeder geleer het. Ons het dit ook as kinders geleer...
“Jesus min my, salig lot, ek weet dit uit die Woord van God...” inderdaad!

Ons kan intellektueel baie van Jesus weet en leer uit die Woord van God,
maar, as jy Jesus waarlik wil kén en verstaan, moet jy soos Karl Barth wéét
van sy liefde vir jou, en daaruit leef in ‘n liefdesverhouding met Hom!
1 Johannes 4:9 en 19 stel dit so: “Ons het lief omdat God ons eerste
liefgehad het”... en... “Hiérin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste
Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê.”

Ons het absoluut niks daarvan verdien nie, en sal God nooit genoeg daarvoor
kan prys en dank nie, maar so is dit: Jesus het my lief! Glo dit net! En lééf!

Ernest